PROJEKGIDS
  • Harde werk 4/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig ± 2 uur
  • Maak dit self vir ± R1 800: hout R1 500, skroewe R75, rolwiele R230

Projeknotas

  • Laat saag al die hout pasklaar by jou houthandelaar.
  • Skuur jou planke vooraf.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor.
  • Pas die lengte van die dwarsplanke aan vir ’n bed van koningin- of koninggrootte.
  • Gebruik houtklampe as jy ’n groentjie is of alleen moet werk.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • een 1 800 mm-lengte geskaafde dennehout (69 x 94 mm), gesaag in nege blokke van 150 mm (stutte)
  • ses 2 400 mm-lengtes geskaafde dennehout (22 x 94 mm), elkeen korter gesaag tot 1 870 mm (lang basisplanke)
  • vyftien 1 800 mm-lengtes geskaafde dennehout (22 x 94 mm), elkeen korter gesaag tot 1 370 mm (dwarsplanke)
  • twee pakkies 8 mm x 40 mm-spaanderbordskroewe
  • vyf rolwiele met hegplaat (kies twee wiele met remme)
  • 120-grint-skuurpapier

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • winkelhaak
  • houtklampe

So maak jy ...

1. Skroef drie van die 69 x 94 x 150 mm-stutte tussen twee van die 22 x 94 x 1 870 mm-basisplanke vas – een stut op elke punt en een in die middel. Maak nog twee van dié basisstrukture deur die proses te herhaal.

2. Skroef drie van die 22 x 94 x 1 370 mm-dwarsplanke haaks oor die drie basisstrukture vas (by elk van die blok-stutte) om die onderkant van die bedbasis te vorm.

3. Draai die bedbasis om en spasieer die oorblywende twaalf 22 x 94 x 1370 mm-dwarsplanke haaks oor die bokant van die bedbasis.

Wenk Gebruik ’n 70 mm-afvalplankie as spasieerder.

4. Draai weer die basis om en skroef ’n rolwiel op elke hoek vas, asook een in die middel van die bed vir ekstra ondersteuning.

Wenk Gebruik die rolwiele met remme aan die voetenent van die bed, dan is dit makliker bereikbaar wanneer jy die bed wil skuif. Verf of vernis die hout in die kleur van jou keuse; ons het besluit om die bed natuurlik te hou.

KONTAK EN VERSKAFFERS
  • Buco 011 847 7300, buco.co.za
  • Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za
  • Minima 021 788 2515, minima.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za