Stilering Marian van Wyk

PROJEKGIDS

Harde werk 5/10

Vaardigheidsvlak 6/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur

Maak dit self vir minder as R900: hout, skroewe en skarniere (pote en verf/vernis uitgesluit)

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

18 mm-laaghout, in die volgende planke gesaag:

  • vier 500 x 400mm (kaskante)
  • twee 364 x 400mm (bodem en rak, kleiner kas)
  • twee 764 x 400mm (bodem en rak, groter kas)
  • vier 364 x 70mm (stutte, kleiner kas)
  • vier 764 x 70mm (stutte, groter kas)
  • een 500 x 1200mm (rugkant)
  • twee 500 x 440mm (sykante, buitenste raam)
  • twee 1 240 x 440mm (blad en bodem, buitenste raam)
  • drie 492 x 392mm (deure)

een pakkie 6mm x 50mm- spaanderbordskroewe

een pakkie 8mm x 30mm- spaanderbordskroewe

een pakkie 6mm x 16mm- spaanderbordskroewe

ses kabinetskarniere

vier pote

120-grint-skuurpapier

verf of vernis

een pakkie rakspykers

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • winkelhaak
  • houtklampe
  • 8mm-boorpunt
  • 24mm-plaatboorpunt
Projeknotas
  • Ons buffet bestaan uit twee dele wat aanmekaargeskroef is: een klein en een groter kasdeel. Dit word dan verstewig met ’n raam buite-om en afgerond met pote en deurtjies.

  • Laat saag al die hout pasklaar by jou naaste houthandelaar – dit sal jou taak aansienlik vergemaklik.

  • Laat versink ook die holtes vir die skarniere in die deure by jou houthandelaar.

  • Skuur die planke voor jy hulle aanmekaarsit.

  • Onthou om gidsgate te boor.

  • Kyk uit vir pote by tweedehandswinkels of vlooimarkte; of kies rolwiele vir ’n byderwetse kinkel.

So maak jy 

1 Maak die kleiner kas deur die 364 x 400mm-bodem tussen die kort sye van twee 500 x 400 mm-kaskante vas te skroef. Skroef twee van  die 364 x 70 mm-stutte tussen die ander kort sye vas en die ander twee aan die agterkant. (Gebruik die 6 mm x 50mm-spaanderbordskroewe en die 3mm-boorpunt.) Maak die groter kas net so, maar gebruik nou die 764 mm-planke (sien skets). Skroef die twee kassies aan mekaar vas met die 8mm x 30mm-skroewe.

Wenk
Gebruik die houtklampe om die kassies in posisie te hou terwyl jy hulle vasskroef.

2 Laat die kas plat lê met die agterkant na bo. Skroef die 500 x 1200mm-rugkant vas – dit hou die kas haaks en stewig. Meet en merk waar die vier pote op die hoeke van die 1240 x 440mm-bodem van die buitenste raam moet kom; boor gidsgate en heg die pote met 6 mm x 50 mm-skroewe. Maak die kas onderstebo staan en skroef die bodem in positie vas met sy agterste rand gelyk met die rugkant.

Kyk uit vir interessante pote by markte en ysterwarewinkels.

3 Skroef die twee 500 x 440mm-sykante van die buitenste raam van binne af aan die kaskante vas. Sit die kas onderstebo op die oorblywende 1240 x 440mm- plank neer en skroef dit ook van binne af vas – dit vorm die boonste blad van die buffetkas.

4 Skroef die skarniere aan die deure vas met die 6 mm x 16 mm-skroewe en gebruik dan ’n 3 mm-spasieerder om die deure in posisie te hou voor jy dit aan die kas se binneraam vasskroef. Meet en merk 60 mm van die bo- en sykant van elke deur af en boor ’n gat met die 24 mm-plaatboor – dié holte vir jou vinger het dieselfde funksie as ’n handvatsel.

Besluit hoe hoog jy die rak in elke kasdeel wil hê en kap die rakspykers waarop hulle gaan rus in. Skuur die hele kas deeglik met die 120-grint-skuurpapier en verf of vernis die hout in die afwerking van jou keuse.

Ons het die buitekant wit geverf met Sabre Paints se Satin Glow Non-drip Enamel, van Jakaranda Hardware.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Cape Boards 021 981 0152

Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za

Jakaranda Hardware 021 981 0802

MRP Home 0800 212 535

Ressource Décor 083 635 9192