Foto’s Henrique Wilding en Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

PROJEKGIDS
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig 1 tot 2 uur
  • Maak dit vir ± R2 200: Hout R2 010, skroewe R80, houtlym R30, skuurpapier R16, houtvuller R30

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 18 mm-laaghout, soos volg gesaag: twee 1 480 x 100 mm (basisraam) vier 220 x 100 mm (dwarsstutte vir basis) tien 2 400 x 300 mm (sye) agt en twintig 334 x 300 mm (rakke) vier 379 x 334 mm (rugkante)
  • twee pakkies 6 mm x 50 mm-spaanderbordskroewe
  • een pakkie 8 mm x 30 mm-skroewe
  • vier 6 mm x 55 mm-spykerankers (“nail-in-anchor”)
  • dennehout-vuller
  • 220-grint-skuurpapier

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • winkelhaak
  • hamerboor met 6 mm-boorpunt
Projeknotas
  • Ons rak bestaan uit vier vertikale eenhede (elk met sewe rakke) wat uiteindelik aan mekaar vasgeskroef word.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor.
  • Skuur jou planke vooraf. 

Só maak jy ... 

1. Die basis Lym en skroef twee van die 220 x 100 mm-planke tussen die ente van die twee 1 480 x 100 mm-planke vas. Spasieer die oorblywende twee 220 x 100 mm-planke eweredig tussenin en skroef vas.

2. Vertikale eenhede Meet en merk op agt van die syplanke waar die rakke moet kom (sien skets onder) en boor gidsgaatjies vir die skroewe. Lym en skroef nou sewe 334 x 300 mm-rakke tussen twee van die 2 400 x 300 mm-syplanke vas (gebruik die 6 mm x 50 mm-skroewe). Herhaal en maak nog drie sulke eenhede. Lym en skroef die vier 379 x 334 mm-rugkante in die agterkant van die twee buitenste eenhede vas (sien foto oorkant) – die rak gaan deur dié rugkante aan die muur vasgesit word.

3. Skroef die oorblywende 2 400 x 300mm-sye aan die "buitekant" van een van die buitenste eenhede vas met die 8mm x 30mm-skroewe. Posisioneer dié eenheid op die basis; plaas die ander drie kaste opeenvolgend langsaan en skroef almal aan mekaar vas. Maak deurentyd seker die voorkante is gelyk. Skroef die laaste 2 400 x 300mm-sy aan die "buitekant" van die laaste eenheid vas.

4. Skuif die rak en die basis teen die muur. Boor met die hamerboor ’n gaatjie deur die rugkante tot in die muur en sit die kaste aan die muur vas met die spykerankers. Skroef nou ook die kaste aan die basis vas. Vul alle skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word voor jy die hele eenheid deeglik afskuur.

KONTAK EN VERSKAFFERS

Hout verskaf deur BUCO (buco.co.za); Constantia-stoel, mat, leerbankie, gesigbeeld, swart potjie, vaas met goue rand, groot swart pot en mandjie van Incanda; glaskubusse, swart-en-wit Zambia-fles, ampersand, Trenton-raam, EC-aardbol, Finley-lamp, Marike- en Mason-houtbokse en wit vaas van Coricraft; kerse van MRP Home; Verfkleur Plascon Peggy’s Cove