Projekgids
  • Harde werk 3/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig ± 1 uur
  • Maak dit vir minder as R1500: hout en skroewe R800, kratte R480, rolwiele R184 (verf/vernis uitgesluit) 

Wat jy nodig het

INKOPIELYS 

  • 18mm-laaghout, in die volgende panele gesaag:  een 1280 x 3500mm (rugkant)  twee 450 x 350mm (sykante) twee 1360 x 450mm (bokant en bodem)
  • vier 75mm-rolwiele met plaat (2 met remme)
  • een pakkie 6mm x 40mm-spaanderbordskroewe
  • een pakkie 8mm x 16mm- spaanderbordskroewe
  • houtlym
  • houtvuller
  • 120-grint-skuurpapier
  • verf of vernis (opsioneel)
  • drie 400 x 400 x 300 mm-dennehoutkratte

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • verfkwas
  • skraper
Projeknotas
  • Koop klaar kratte of gebruik herwinde melk- of koeldrankkratte en pas die kas se mate aan volgens die grootte van jou kratte. Ons kratte kom van The House of Crates in Kaapstad.
  • Skuur jou planke vooraf.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor. 

Bou die bankie

1. Lym en skroef die rugkant tussen die twee sykante vas met die 6mm x 40mm- spaanderbordskroewe. 

2. Posisioneer die bokant bo-op die raam sodat dit alkant ewe ver oorsteek; lym en skroef vas. Draai die kas nou onderstebo en skroef die bodemplank op dieselfde manier vas. 

3. Skroef ’n rolwiel op elke hoek van die bodem vas (gebruik die 8mm x 16 mm-spaanderbordskroewe).

LW Die twee wiele met remme moet aan die voorkant van die kas wees. 

4. Vul al die skroefgate en gleufies in die laaghout netjies op met houtvuller en laat dit goed droog word. Skuur dan die hout alvorens jy dit verf of vernis in die afwerking van jou keuse. Plaas die kratte binne-in om die kas te voltooi.

Verf die bankie

Wat jy nodig het

INKOPIELYS 

  • emaljeverf met ’n waterbasies (ons het oorskiet- Dulux PearlGlo in die kleure Night Jewels 6, 4 en 3, en Quartz Flint 2 gebruik)
  • onderlaag

GEREEDSKAP

  • sponsrollers en verfbakke
  • maskeerband
  • maatband
  • potlood

Projekgids
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 2 uur, plus droogtyd 

1. Verf die voorkant van die kratte met onderlaag. Wag tot dit droog is voor jy verder werk. 

2. Wend nou twee lae Quartz Flint 2 aan (laat die eerste laag goed droog word). 

3. Meet en merk die middel van elke krat-voorkant op die boonste rand. Plak met maskeerband ’n driehoek van die onderste hoeke tot by die punt wat jy gemerk het. 

4. Verf die driehoek wat jy in stap 3 gemerk het met twee lae Night Jewels 6 (laat die eerste laag goed droog word voor jy die tweede laag aanwend). Trek die maskeerband af wanneer die tweede laag droog is. 

5. Meet en merk die middel van elke krat op die onderste rand. Plak nou met maskeerband ’n driehoek van die boonste hoeke na die punt wat jy gemerk het. 

6. Verf dié driehoek met twee lae Night Jewels 3 en laat die verf droog word. Moet nog nie die maskeerband aftrek nie. 

7. Plak weer die vorm van die eerste driehoek met maskeerband. Verf nou die diamantvorm in die middel met twee lae Night Jewels 4. Wag tot die verf droog is en verwyder die maskeerband.