Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk 

Projekgids
  • Harde werk 6/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig 1 tot 2 uur
  • Maak dit vir minder as R1600: hout, skroewe en pote R1320, kragsok R220, kragdraad en -prop R60 (verf/vernis uitgesluit) 

Wat jy nodig het

INKOPIELYS 

  • Twee 2440 x 1220 x 18mm- veselborde (“OSB”), soos volg gesaag: twee 1900 x 800mm (voor- en agterkant); twee 800 x 130mm (sye); vier 200 x 130mm (kort rakke); een 130 x 90mm (verdeler); een 1464 x 130mm (binnerak); twee 945 x 175mm (deksels); een 1900 x 166mm (bodem)
  • vier 150mm-pote
  • vier kabinetskarniere
  • elektriese sok
  • 4m kragdraad
  • kragprop
  • een pakkie 6mm x 40mm- spaanderbordskroewe
  • een pakkie 8mm x 16mm-spaanderbordskroewe
  • houtvuller
  • 120-grint-skuurpapier
  • verf of vernis (opsioneel) 

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • figuursaag
  • 12mm-plaatboorpunt
  • maatband
  • verfkwas
  • skraper 
Projeknotas
  • Laat saag jou hout klaar by jou houthandelaar; laat hulle ook die gate vir die skarniere maak.
  • Vra ’n elektrisiën of iemand met ervaring van elektrisiteit om te help met die kragsok se verbinding.
  • Boor gidsgate waar nodig.
  • Nadat die twee sye tussen die voor- en agterkant vasgesit is en elke paneel perfek pas, moet jy weer een van die sye uithaal, so jy hoef nie al die skroewe vir alb sye styf vas te draai nie. 

So maak jy

1. Meet en merk die voor- en agterkant soos in skets 1 aangedui; meet en merk ook die kantrakke volgens skets 2. Boor gidsgate waar die onderskeie panele aanmekaargeskroef moet word. Sit die twee kantrakke aanmekaar met die 6mm x 40 mm-skroewe. 

2. Plaas die kantrakke in posisie teen die agterkant en skroef dit vas. Skroef ook die binnerak en verdeler vas tussen die kantrakke en aan die agterkant. Plaas die voorkant in posisie en skroef dit aan die rakdele vas. (Sien projek nota op vorige blad.) 

3. Verwyder nou een kantrak en merk ’n vierkant waarin die kragsok sal pas. Boor met die plaatboor ’n gat op twee hoeke van dié vierkant en saag die vierkant al langs die potloodmerke uit. Verbind die kragdraad aan die kragsok. Druk die sok in die vierkant en skroef die sokplaat vas. Plaas die kantrak terug en skroef dit weer op sy plek vas. 

4. Draai die kas onderstebo en merk op die bodem waar die kragdraad moet uitkom. Boor ’n gat met die plaatboor, voer die draad deur en sit die kragprop aan die ent vas. Skroef nou die bodem vas en sit die pote vas met die 8 mm x 16 mm-skroewe. Maak die kas regop staan en skroef twee skarniere aan elke deksel vas. Plaas die deksels in posisie en skroef hulle aan die kas vas.

Afronding Vul alle skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word. Skuur die kas deeglik en vernis indien verkies. 

KONTAK EN VERSKAFFERS