Foto’s Elza Cooper • Stilering Amanda van Wyngaardt

PROJEKGIDS
  • Harde werk 4/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10Tyd nodig Sowat ’n uur per vierkante meter bekleding; 2 uur vir die sweefrak

Projeknotas

  • Plak ’n toetsplank teen die muur en los dit vir omtrent ’n week om te sien of die hegting tussen die lym en die verf, asook tussen die verf en die muur, goed is.
  • Verwyder alle verf wat afskilfer met ’n skraper en draadborsel.
  • Die rak word gebou met vyf planklengtes hout wat jy aanmekaar lym en skroef.

Wat jy nodig het

Inkopielys

Vir die bekleding

  • 3 000 x 12 x 94 mm- alkant geskaafde (“PAR”-) dennehout en
  • 3 000 x 22 x 94 mm- alkant geskaafde dennehout, alles gesaag in: 600 mm-lengtes

Vir die sweefrak

  • 2 400 x 21 x 300 mm-rakplank, gesaag in: twee 800 mm-lengtes; twee 150 mm-lengtes; een 475 mm-lengte
  • houtlym
  • Alcolin Fix-All
  • 120- en 240-grint-skuurpapier (om dennehoutvuller glad te skuur)
  • houtvuller
  • 2 x 12 mm-Rawl-boute
  • 12 mm-skroefstaaf
  • moere en wasters
  • 30 mm-skroewe

Gereedskap

  • boor en gidsboorpunt
  • 20 mm-klipboorpunt (vir Rawl-boutgate)
  • figuursaag
  • ystersaag
  • potlood
  • maatband
  • skroewedraaier
  • kalfaatgeweer (vir Alcolin Fix-All-lym)
  • 19 mm-moersleutel
  • waterpas
  • gomgeweer
Gebruik herwinde vloerplanke vir ’n beleë voorkoms.

So maak jy

1. Maak die sweefrak Lym en skroef ’n 150 mm-lengte op elke ent van die een 800 mm-lengte vas.

2. Saag twee stukke skroefstaaf (so lank soos ’n Rawl-bout + rakdiepte + moer en waster) en plaas dit op die rak as gids om te verseker dat die middelste (475 mm-) plank die regte lengte het voor jy dit tussen die twee 150 mmlengtes vasskroef; skroef die ander 800 mmlengte bo-oor vas, vul openinge en skuur glad.

3. Maak die bekleding Trek ’n waterpas lyn teen die muur as beginpunt; onthou om met elke vierde lyn wat jy trek seker te maak of dit nog waterpas is, en maak die nodige aanpassings. WENK Skuur die hoeke van jou planke effens skuins af sodat die lasse duidelik wys.

4. Begin met ’n 600 mm-lengte 22 mm-hout, wend drie groot blertse Alcolin Fix-All op die plank aan met twee groot blertse warm lym onmiddellik daarna, en plak die plank teen die muur. (Die warm lym gee ’n vinnige maar tydelike hegting, terwyl die Fix-All mettertyd permanent sal heg.) Voltooi jou lyn met nog ’n 600 mm plank. Begin dan met die volgende lyn: Neem ’n 12 mm-plank en saag dit middeldeur (in 2 x 300 mm-lengtes) sodat jy ’n baksteenpatroon kan skep met ’n 600 mm- en ’n 300 mm-lengte alkant daarvan.

5. Herhaal die stappe en wissel dik en dun planke af vir tekstuur. Besluit vooraf waar jy die sweefrakke wil hê en bou dit in wanneer jy dié posisies bereik.

6. Posisioneer jou rak en kap die skroefstaaf teen die muur om te merk waar jy moet boor, en boor die gat. WENK Druk die Rawl-bout in die gat en draai die bout vas om hegting tussen die muur en die bout se omhulsel te verskaf; verwyder dan die bout en vervang dit met die skroefstaaf.

7. Skuif die rak oor die skroefstaaf, voeg wasters by en draai die moere vas. Gaan dan voort met die bekleding en saag die nodige kepe met jou figuursaag uit. WENK Wissel lasplekke rondom hoeke af om detail te skep.

TER AFRONDING Verf, beits of wit die hout af, en bedek dit dan met ’n geskikte seëlaar.