Foto’s Francois Oberholster Produksie Marian van Wyk

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10 

Vaardigheidsvlak 7/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur 

Maak dit vir ± R660:

Hout R550,

skroewe R50,

gom R40,

skuurpapier R20

Wat jy nodig het

INKOPIELYS 

• 21 mm-laaghout, in die volgende dele gesaag: 

nege 400 x 210 mm-panele (pote) 

drie en sestig 210 x 60 mm-plankies (blaaie)

• twee pakkies 6 mm x 50 mm-spaanderbordskroewe

• een pakkie 8 mm x 30 mm-spaanderbordskroewe

• Alcolin Fast Set Glue

• 150-grint-skuurpapier

• houtvuller

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm-boorpunt 

• potlood

• maatband

• rol- of handsaag

• skaaf

Projeknotas

• Laat jou houthandelaar die planke saag met die vertikale sye teen 30°. Let op dat die pote se binne- en buiterand skuins na onder loop.

• Die blaaie bestaan uit langwerpige plankies wat een vir een tussen die drie pote op mekaar vasgeskroef word (sewe plankies in elke segment).

• Skuur die planke vooraf. 

Só maak jy ...

20210112DIYnestkoffietafelsF-008

1 Merk en saag die nege 400 x 210 mm-pootplanke soos in skets 1 aangedui. Merk die posisie vir twee gidsgaatjies 30 mm van die binneste sy op elkeen (waar die pote aan mekaar vasgeskroef word). Hou drie van die planke bymekaar en skroef dit vas met die 6 mm x 50 mm-skroewe. 

2 Lym en skroef nou die 210 x 60 mm-plankies een vir een tussen die pote vas (sewe in elke segment). Onthou om ook lym aan die kort sy wat teen die pootplank (regs op die foto’s) pas, aan te wend, en posisioneer die skroewe afwisselend sodat dit nie bo-op die voriges beland nie. Herhaal die hele proses en maak nog twee sulke tafeltjies om jou stel te voltooi.

3 Saag die ongelyke plankiesrande van die blaaie gelyk af. Gebruik jou skaaf om die pote ook gelyk met die blad af te werk. Vul alle skroefgate met houtvuller, laat dit droog word en skuur die rande. 

Het jy geweet?
DIY Deon is nie voltyds in Tuis se diens nie, maar bedryf ’n eie onderneming. Dié vakman kan enigiets onder die son maak – van tafels soos dié tot kombuiskabinette en klerekaste. Indien jy Deon se dienste nodig het, e-pos hom by deon@diydeon.co.za of bel hom by 084 589 5026.