Foto's Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 18mm-laaghout, soos volg gesaag: een 600 x 300mm (valblad); een 600 x 150mm (vaste blad); een 600 x 130mm (rugkant); twee 250 x 130mm (stutte)
  • houtlym
  • een pakkie 6mm x 40mm-spaanderbordskroewe
  • een pakkie 6mm x 16mm- spaanderbordskroewe
  • vier 75mm-plaatskarniere
  • houtvuller
  • 120-grint-skuurpapier
  • verf of vernis (opsioneel) 

GEREEDSKAP

  • potlood
  • figuursaag
  • maatband
  • koordlose boor en 3mm-boorpunt
  • verfkwas
  • skraper
Projeknotas
  • Laat jou houthandelaar die planke saag, dan is jou werk makliker.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor 

So maak jy 

1. Gebruik die figuursaag en saag die een hoek van al twee 250 x 130mm-stutte rond. Trek ook ’n halwe sirkel met ’n potlood op die 600 x 300mm-valblad en saag dit al langs die potloodlyn uit. 

2. Skroef die 600 x 150mm- vaste blad haaks op die 600 x 130mm-rugkant vas met die 40mm-skroewe. Wenk Gebruik een van die 250 x 130mm-stutte as ondersteuning. 

3. Draai die struktuur onderstebo met die vaste blad na onder en plaas die halfronde valblad daarteen; verbind die twee blaaie met twee 75mm-skarniere (plaas die skarniere sowat 10mm van elke sy en gebruik die 16mm-skroewe). 

4. Posisioneer die twee 250 x 130mm-stutte haaks teen die rugkant, gelyk met die binnerand van die twee bladskarniere, en merk waar die tweede skarnierpaar teen die rugkant en die stutte moet vaskom. Skroef die skarniere eers aan die stutte en dan aan die rugkant vas.

5. Boor drie gidsgaatjies deur die rugkant waardeur jy die tafeltjie aan die muur kan vasskroef. Wenk Posisioneer die middelste skroefgat effens hoër as die twee buitenstes, dan sal jou rak stewiger teen die muur sit. Vul alle skroefgate met houtvuller en skuur die hout deeglik sodra dit goed droog is.