PROJEKGIDS
  • Harde werk 3/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig ± 2 uur
  • Klaar grootte 900 (b) x ± 1 300 mm (h)

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 1 300 x 900 x 16 mm-MDF soos Supawood
  • een vel 150-grintskuurpapier

Gereedskap

  • koordlose boor en 10 mm-plaatboorpunt
  • potlood
  • lang liniaal
  • figuursaag
  • fyn hout-saaglem
  • sponsroller en verfkwas

So maak jy ...

1. Trek ’n horisontale lyn 300 mm van die “bo”-kant van die plank; merk die middel en teken twee haasore bo die horisontale lyn. Saag die ore met die figuursaag uit. Teken nou ’n hartjie van ± 90 mm – dit vorm die neus van die haas.

2. Teken drie snorbaarde alkant van die hart. Boor ’n gat met die plaatboor op die punte van elke snorbaard, verbind die gate met ’n potloodlyn en saag die snorbaarde uit. Boor ook ’n gat op die onderste punt van die hart en saag die hart uit.

3. Rond die hoeke af, skuur die kopstuk liggies met skuurpapier en verf dit dan met ’n sponsroller in die kleur van jou keuse. Ons het Dulux Luxurious Silk (’n akriel-PVA) in die kleur Obsidian Glass gebruik.