
Foto’s Ed O’Riley
Wat jy nodig het
INKOPIELYS
• 19 mm- gelamineerde dennehout, in die volgende dele gesaag:
twee 1 300 x 300 mm (voor- en agterkant)
twee 350 x 300 mm (sye)
een 1 262 x 350 mm (bodem)
een 1 350 x 430 mm (deksel)
een 1 262 x 100 mm (stut vir die skarniere)
vier 100 x 100 mm (blokkies vir die pote)
• vier pote met T-moere
• twee skarniere
• een pakkie 6 mm x 40 mm-spaanderbordskroewe
• een pakkie 8 mm x 30 mm-spaanderbordskroewe
• Alcolin Fast Set Glue
• 150-grint-skuurpapier
• houtvuller
GEREEDSKAP
• koordlose boor en 3 mm- en 9 mm-boorpunt
• potlood
• maatband
• hamer
Harde werk 4/10
Vaardigheidsvlak 4/10
Tyd nodig 1 tot 2 uur
Maak dit vir ± R1 520:
Hout R1300,
pote R80,
skarniere R40,
skroewe R40,
gom R40,
skuurpapier R20
PROJEKNOTAS
• Meet versigtig.
• Skuur jou planke vooraf.
• Onthou om gidsgaatjies te boor.
1 Lym en skroef die twee 350 mm-sye tussen die ente van die 1 300 mm-voor- en agterkant vas om die raam vir die kis te maak.
2 Lym en skroef die 1 262 mm-bodem op sy plek tussen die vier raamsye vas. Skroef nou die 1 262 mm-stut vir die skarniere bo teen die rugkant vas. Meet en merk die plek vir die skarniere – 150 mm van elke sy – en skroef vas. Plaas die kis op sy rugkant langs die deksel sodat laasgenoemde ewe ver by elke sy verbysteek, en skroef die skarniere aan die deksel vas.
3 Boor ’n 9 mm-gat in die middel van elk van die vier 100 x 100 mm-blokkies vir die pote en kap die T-moere daarin vas. Lym en skroef ’n blokkie op elke hoek aan die onderkant van die kas vas en draai die pote in. Vul al die skroefgate met houtvuller en skuur glad wanneer dit droog is. Verf of vernis die bankie in die kleur of afwerking van jou keuse.