Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk • Verftegniek Suné Esterhuizen

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 44 x 44 mm- geskaafde dennehout, gesaag in: twee lengtes van 470 mm twee lengtes van 425 mm; twee lengtes van 382 mm; twee lengtes van 338 mm en twee lengtes van 260 mm (sporte); vier lengtes van 1 800 mm (pote)
  • 22 x 220 mm- geskaafde denne- hout, gesaag in twee lengtes van 850 mm (rakke)
  • 2 x 44 mm- geskaafde dennehout, gesaag in twee lengtes van 1 100 mm (kruisstutte)
  • een pakkie 6 mm x 50 mm-skroewe
  • een gordynstok (30 mm dik)
  • houtvuller
  • skuurpapier
  • maskeerband
  • Tjhoko Paint in die kleure Pebble Blue, Nade, Jane’s Jade en Comfort’s Blue

GEREEDSKAP

  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • houtklampe
  • rugsaag
  • houtbeitel
  • hamer
  • verfkwas
    PROJEKGIDS
    • Harde werk 4/10
    • Vaardigheidsvlak 4/10
    • Tyd nodig 1 tot 2 uur
    • Maak dit vir onder R1 100: Hout en skroewe R1 050, skuurpapier en houtvuller R30 (verf uitgesluit)

    Projeknotas

    • Onthou om gidsgaatjies te boor.
    • Skuur jou planke vooraf.

So maak jy die kas ...

1. Saag die ente van al die 44 x 44 mm-sporte teen 3 grade (in teenoorgestelde rigtings). Plaas twee 1 800 mm-pote langs mekaar en maak merke 300 mm, 600 mm, 900 mm en 1 200 mm van die een ent af. Maak ook merke 44 mm van die ander ent af. Plaas die sporte soos volg tussen die pote: ’n 470 mm-sport by die 300 mm-merke, ’n 425 mm-sport by 600 mm, ’n 382 mm-sport by 900 mm en ’n 338 mm-sport by die 1 200 mm-merke. Plaas ’n 260 mm-sport op die ander ent by die 44 mm-merke. Lym en skroef die sporte aan die pote vas. Herhaal die proses met die ander sporte en pote.

Wenk: Gebruik houtklampe om jou taak te vergemaklik.

Jou leer lyk nou só

2. Plaas die twee “lere” parallel langs mekaar en skroef die 22 x 220 mm-rakke op die onderste twee sporte vas (een voor en een agter). Skroef nou die gordynstok bo-op die boonste sporte vas. Maak heeltyd seker die lere is parallel.

3. Plaas een van die 22 x 44 mm-kruisstutte skuins oor die agter- kant van die kas, gelyk met die onderste en derde sport, en klamp dit vas. Plaas die ander een dwars oor die eerste een en merk waar die twee kruis. Gebruik die rugsaag en beitel en verwyder die helfte van die dikte van elke stut (11 mm) sodat hulle in mekaar pas waar hulle kruis. Lym en skroef die kruisstutte nou in plek vas om die kas stewig te maak en saag die oortollige hout af. Vul alle skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word alvorens jy skuur.

... en so maak jy hom mooi

4. Merk strepe op die pote met maskeerband en maak seker dis stewig geplak sodat die verf nie daaronder kan inloop nie. Verf oor die maskeerband (ons het Jane’s Jade gebruik). Wag tot die verf droog is en trek die maskeerband versigtig af. Herhaal met al vier pote of verf twee in ’n soliede kleur, soos ons gemaak het.

5. Vir jou geometriese patroon, maskeer drie driehoeke en ’n vierhoek op een van die rakke (sien foto). Verf die middelste driehoek en die vierhoek in die twee ligste kleure (in ons geval Pebble Blue en Nade).

LW Dit kan nodig wees om twee lae te verf. Wag tot die verf droog is en trek die maskeerband versigtig af.

6. Maskeer nou nog ’n driehoek sodat dit die geverfde vierhoek oorvleuel. Maskeer en verf die ongeverfde punt met die donkerste kleur (Comfort’s Blue) en laat die verf droog word.

7. Maskeer die basis van die driehoek wat jy pas geverf het en verf die punt wat die vierhoek oorvleuel in ’n effens ligter kleur as die vorige (Jane’s Jade). Trek al die maskeerband af sodra al die verf droog is.  As jou meubelstuk buite of in ’n vogtige omgewing gaan staan, is dit belangrik om dit met Tjhoko se Clear Glaze te seël (aanwysings op die verpakking).

KONTAK EN VERSKAFFERS

Materiaal verskaf deur BUCO

  • BUCO 021 927 5000, buco.co.za
  • Deon de Goede 084 589 5026, deon@diydeon.co.za
  • Hertex 0860 437 839, hertex.co.za
  • Tjhoko Paint tjhoko.co.za
  • Haus 021 948 4764, hertexhaus.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za