Projeknotas

  • Laat saag al die stukke hout pasklaar by jou naaste houthandelaar, dan is jou werk soveel minder.
  • Skuur jou planke vooraf.
PROJEKGIDS

Harde werk 3/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 1 tot 2 uur

Maak dit self vir onder R500 (hout en skroewe R450)

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• een blad 18 mm-laaghout, in die volgende stukke gesaag:

een 820 x 660mm (rugplank)

een 600 x 200mm (rak)

een 360 x 200mm (rak)

• een 19mm-hout-tappen

• vier 10mm-Rawl-boute

• 120-grint-skuurpapier

GEREEDSKAP

• koordlose boor, 8 mm-houtboorpunt en 19 mm-plaatboorpunt

• 54 mm-gatsaag

• potlood

• maatband

• liniaal

• 10 mm- moersleutel

• elektriese boor en 10 mm- betonboorpunt

So maak jy...

Meet en merk die volgende punte teen die lang sye van die rugplank af: 80mm, 240mm, 400mm, 560mm,720 mm. Meet en merk die volgende punte teen die kort sye af: 100mm, 215mm, 330mm, 445mm, 560mm. Verbind nou dié merke om ’n rooster te vorm. Gebruik die plaatboor en boor gate waar die lyne kruis. Boor ook vier 8 mm-gate vir die Rawl-boute.

Wenk Keer dat die hout splinter deur die gate net halfpad te boor (tot die boorpunt se skerp punt agter uitkom).Draai dan die plank om en boor elke gat van die anderkant af deur.

Meet en merk punte by 130mm, 245mm en 360mm in die middel van die 600 x 200 mm-plank af. Gebruik jou gatsaag en boor ’n gat by elke punt – dis perfek om klein plantpotjies in te versink. Skuur nou al jou planke deeglik.

Merk en boor met die betonboorpunt gate vir die Rawl- boute in die muur. Plaas die rugplank oor die boute en draai hulle vas met die moersleutel.

Saag die hout-tappen in agt lengtes van 200mm elk en steek die houtpenne in die bord op die hoogte waar jy jou rakke wil hê.

Wenk: Jy kan ook die penne skuif en as boekstutte gebruik.

Gebruik Rawl-boute om voorwerpe teen ’n baksteenmuur vas te sit. Die boute het dele wat met ’n wigaksie uitsit wanneer jy die bout vasdraai en anker homself só stewig in die muur.