PROJEKGIDS
  • Harde werk 4/10
  • Vaardigheidsvlak 4/10
  • Tyd nodig 3 uur
  • Klaar grootte ± 1 370 mm (l) x ± 500 mm (b)

Projeknotas

  • As jy nie self ’n ou bed het nie, vra rond by familie of vriende of kyk by tweedehands- of pandjieswinkels.
  • Onthou om gidsgaatjies te boor.

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 22 x 96 mm-dennehoutplanke, gesaag in: twee lengtes van 1 280 mm en vyf lengtes van 400 mm (sitplekraam) twee lengtes van 430 mm (voetstuk-spasieerders)
  • 16 mm-spaanderbord, gesaag tot: 1 280 x 500 mm (sitplek)
  • dubbelbed se kop- en voetenent
  • houtlym
  • vyftig 8 mm x 50 mmspaanderbordskroewe
  • 1 370 x 550 x 50 mm-spons
  • materiaal van jou keuse (gebruik sommer oorskietlap)
  • 1 liter Annie Sloan Chalk Paint (ons het die kleur French Linen gebruik)
  • donkerkleurige Annie Sloan Wax
  • 80-grint-skuurpapier en lap vir opvryf
  • 1 Scotch-Briteswaardiensskuurspons

Gereedskap

  • boor en 3 mm-boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • figuursaag
  • kramgeweer
  • 16 mm- en 24 mmhoutboorpunte
  • liniaal
  • maskeerband
  • lang houtklamp

So maak jy

Stap 1: Jy het twee ewe groot dele nodig vir die sye – gebruik die voetenent vir die doel. Meet van die buitekante van die voetenent 500 mm binnetoe en trek ’n streep van bo na onder. Saag al langs die lyn met jou figuursaag.

Stap 2: Lym en skroef twee van die 400 mm-lengtes tussen die twee 1 280 mm-lengtes vas.

Stap 3: Sit nou die oorblywende drie 400 mm-planke plat in die raam – een teen elke kort sy en een in die middel. Lym en skroef vas.

Stap 4: Meet en trek ’n streep 400 mm van die onderkant van die twee sykante af. Skroef die twee 430 mm-spasieerders aan die binnekant van die sykante vas.

Stap 5: Heg nou die sitplekraam aan die twee sykante: Sit die raam op sy kop op die spasieerplank neer; lym en skroef vas. Herhaal aan die ander kant.

Stap 6: Merk die area waar jy die sykante aan die kopstuk gaan vasskroef om die rugkant van die bankie te vorm. Boor 4 gidsgaatjies binne die merke op die kopstuk en draai die kopstuk om. Versink die gidsgaatjies met die 16 mm-boorpunt aan die buitekant.

Stap 7: Plaas nou die raamwerk met sye terug op die merke teen die kopstuk en klamp dit in posisie. Skroef vas.

Stap 8: Boor met die 24 mm-boorpunt gate in die spaanderbord (dit sal keer dat die spons sweet en muf). Sit die spaanderbord bo-op die spons neer en kram die spons daaraan vas. Sit nou die bord met spons bo-op die agterkant van die materiaal neer, trek die materiaal styf en skiet dit vas met die kramgeweer. Wenk Vou die materiaalrand om vir ’n sterker hegting en netjieser afwerking.

Stap 9: Skuur die bankie liggies met die skuurspons en verf met Annie Sloan- of ander verf van jou keuse. Laat dit goed droog word.

Stap 10: Skuur liggies met skuurpapier om ’n verweerde voorkoms te verkry, seël met Annie Sloan Wax en vryf met ’n sagte lap tot mooi glad. Sit die sitplek op die raam en siedaar!