Wat jy nodig het 

INKOPIELYS 

  • Twee 2400 x 610 x 20mm-blaaie gelamineerde dennehout, soos volg gesaag:een 810 x 300mm (agterkant); een 860 x 300mm (voorkant); vier 520 x 280mm (rakke); een 810 x 520mm (sykant); twee 320 x 585mm (werkblad); drie 520 x 40mm (rakrande)
  • vier 75 mm-rolwiele
  • een pakkie 6mm x 40mm- spaanderbordskroewe
  • een pakkie 8mm x 30mm- spaanderbordskroewe
  • een pakkie 8mm x 16mm- spaanderbordskroewe
  • een handvatsel
  • houtvuller
  • 120-grint-skuurpapier
  • verf of vernis (opsioneel) 

GEREEDSKAP 

  • koordlose boor en 3mm- en 4mm- boorpunt
  • potlood
  • maatband
  • verfkwas
  • skraper 
PROJEKGIDS
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig 1–2 uur
  • Maak dit vir onder R1250: Hout en skroewe R1035; rolwiele R160; handvatsel R55 (verf/vernis uitgesluit) 
Projeknotas

• Pas die kassie aan volgens jou behoeftes – ons s’n is so gemaak dat die bokant gelyk is met die werkvlak van ons ingeboude kombuiskaste. Jy kan ook die voorkant aanpas dat die onderkant gelyk is met die res van jou kombuiskaste.

• Laat jou hout vooraf saag by jou houthandelaar.

• Skuur jou planke vooraf.

• Onthou om gidsgaatjies te boor. 

Só maak jy

1 Meet en merk die voor- en agterkant soos in skets 1 aangedui en boor gidsgate waar die planke moet vaskom. Skroef die sykant tussen die voor- en agterkant vas met die 6 mm x 40 mm-skroewe. Skroef die onderste en boonste rak op hul plek vas om die kassie te vorm.

2 Lym en skroef ’n rakrand aan elk van die twee oorblywende rakke vas (sien skets 2). Plaas die rakke in posisie en skroef vas. Posisioneer die laaste rakrand (sonder ’n rak) sowat 100 mm van die onderste rak af en skroef dit tussen die voor- en agterkant vas. 

 

3 Maak die werkblad deur die twee 320 x 585 mm-planke aan mekaar te lym en vas te skroef met die 8mm x 30mm-spaanderbordskroewe. Sit die kassie onderstebo op die blad neer en skroef die blad van binne af aan die boonste rak vas. 

4 Skroef ’n rolwiel op elke hoek aan die onderkant van die kas vas met die 8mm x 16mm-skroewe. Draai die kassie regop en merk waar die handvatsel aan die voorkant moet kom. Boor die skroefgate met die 4 mm-boorpunt en skroef die handvatsel vas. Vul alle sigbare skroefgate met houtvuller en laat dit goed droog word. Skuur die kassie deeglik en verf of vernis dit in die kleur van jou keuse. 

Wenk
Kleur die blad van jou nuwe kassie só dat dit by die ander kombuisblaaie pas. Woodoc het ’n groot reeks kleurkonsentrate waarmee jy vernis kan kleur. 

Klaar gewerk, rol die kassie weer netjies terug op sy plek.