Projeknotas

  • Ons benodigdhede is voldoende vir ’n ekstragroot hondehok van 950 mm. As jy ’n kleiner een nodig het, moet jy jou mates en benodigdhede daarvolgens aanpas.
  • Maak seker die houthandelaar saag die hout akkuraat. Net 1 mm te veel of te min kan jou hoofbrekens besorg as jy dit aan mekaar moet sit.


Wat jy nodig het

Inkopielys

Raamwerk

  • 9 behandelde dennehoutlatte van 3 000 x 38 x 38 mm – dis vir ’n hondehok van 950 x 950 x 950 mm (sonder die dak) en ’n totale hoogte van 1 150 mm (met die dak)

Ons het dié lengtes gesaag tot:

  • A Regop pale: 4 behandelde dennehoutlatte van 1 050 x 38 x 38 mm
  • B Dwarsstutte en spanstuk: 12 behandelde dennehoutlatte van 874 x 38 x 38 mm vir die dwarsstutte aan die voor-, agteren sykante, en die spanstuk oor die vloer
  • C Dakhelling en dwarsbalk bo die deur: 5 behandelde dennehoutlatte van 550 x 38 x 38 mm

Ander

  • 2 velle 4 mm-NuTec-bord van 1 200 x 3 000 mm
  • ± 80 spaanderbordskroewe (8 x 60 mm) om die raamwerk aan mekaar te sit
  • ±100 spykers (3 x 32 mm) om die NuTec-bord aan die raamwerk vas te sit (óf gebruik Alcolin Fix-All)
  • waterbestande houtlym
  • 80-grint-skuurpapier
  • Permabond (opsioneel)
  • verf (ons het swart vir die dak en wit vir die sykante gebruik)

Gereedskap

  • skerp potlood
  • maatband
  • elektriese boor en 3 mmhoutboorpunt
  • koordlose boor
  • uitsnysaag
  • hamer
  • skuurder

So maak jy

1. Meet 100 mm van een punt van elke regop paal van 1 050 x 38 x 38 mm (A). Maak ’n merk. Dié 100 mm-dele vorm die pote van die hondehok.

2. Gebruik vier van die behandelde dennehoutlatte van 874 x 38 x 38 mm (B) en die 8 x 60 mmspaanderbordskroewe om die vier regop pale by die 100 mmmerk te las om ’n kas te vorm. Belangrik: Onthou om al die lasplekke vas te lym voordat dit aan mekaar geskroef word.

3. Gebruik nog vier behandelde dennehoutlatte van 874 x 38 x 38 mm (B) om die bokante van die regop pale op dieselfde manier aan mekaar te las. Jy moet nou ’n raamwerk van 950 x 950 x 950 mm (1 050 mm minus die 100 mm-pote) aan die buitekante hê. Besluit watter kant die voorkant van die hondehok moet wees. Sit ’n ander B-lengte in die middel oor die onderkant van die raamwerk (van links na regs) om ’n stewige dwarsbalk vir die vloer te vorm.

4. Gebruik twee van die behandelde dennehoutlatte van 874 x 38 x 38 mm (B) en een behandelde dennehoutlat van 550 x 38 x 38 mm (C) om die raamwerk vir die deuropening te maak. Gebruik die spaanderbordskroewe om die twee B-lengtes in posisie vas te skroef – dit moet 124 mm na binne wees aan die binnekant van elk van die regop pale aan die voorkant. Skroef die 550 mm-dwarsbalk (C) in posisie vas tussen die twee nuwe regop pale – dit moet 650 mm bo die dwarsbalk aan die onderkant van raamwerk se voorkant wees.

5. Besluit op die helling van jou dak (ons het ’n baie klein hoek vir ons uiteindelike hondehok gekies, maar op dié foto is dit 45º om dit beter te demonstreer). Bring die toepaslike hoeke op die punte van elk van die vier oorblywende 550 mm-dele aan (twee vir die voorkant en twee vir die agterkant) en saag die hoeke met die uitsnysaag uit. Skroef dit met die spaanderbordskroewe aan die boonste hoeke van die raamwerk vas, sowel as waar dit by die dakkap bymekaar kom.

6. Sit die NuTec-bord op die grond neer en sit die raamwerk van die hondehok bo-op. Trek die buitelyn van die raamwerk met ’n potlood af en saag dan met die uitsnysaag op dié lyn. Sit die bord in die raamwerk bo-op die raamwerkbasis en spyker dit met die 3 x 32 mm-spykers aan die buiteraamwerk én die dwarsbalk vas.

7. Herhaal dié metode vir die merk en uitsaag van die panele vir die sykante, voorkant, agterkant en dak.

8. Sit dié bord op die buitekant van die raamwerk en spyker dit vas met die hamer en 3 x 32 mm-spykers. Belangrik: Maak seker die twee dakdele sit styf teen mekaar waar dit aan die bokant bymekaar kom.

9. Skuur die rande van die hele struktuur met die 80-grint-skuurpapier en verf dit in die kleur(e) van jou keuse. Wenk: Jy kan eers ’n laag Permabond-bind-en kloumiddel op die panele verf sodat die verf beter aan die bord sal kleef.