PROJEKGIDS
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig ± 2 uur (verf of vernis uitgesluit)

PROJEKNOTAS

  • Jy kan die grootte van jou dagbed aanpas sodat ’n standaard-enkelbedmatras (920 x 1 880 mm) daarop pas.
  • Onthou om gidsgate te boor.
  • Jy kan jou dagbed ’n kontemporêre voorkoms gee deur enige van Woodoc se COLOURS te gebruik om Woodoc Water-Borne DECK te kleur. Dit is beskikbaar in 12 modieuse kleure soos 'Seaweed' en 'Mulberry', sowel as 8 natuurlike houtkleure soos 'Imbuia' en 'Meranti'.

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 22 x 95 mm- geskaafde dennehout, soos volg gesaag: twee lengtes van 1 900 mm (raam); drie lengtes van 460 mm en ses lengtes van 300 mm (pootstrukture); sewentien lengtes van 600 mm (basis)
  • Alcolin Cold Glue
  • 150-grint-skuurpapier
  • ongeveer eenhonderd 8 mm x 40 mm-spaanderbordskroewe
  • 1 liter Woodoc Water-Borne DECK

Gereedskap

  • skuurmasjien
  • figuursaag
  • koordlose boor en 3 mm-boorpunt
  • houtklamp
  • kombinasie-winkelhaak
  • maatband
  • potlood

So maak jy ...

1. Meet en merk die 460 mm- en die 300 mm-planke soos op skets 1 en 2 aangedui en saag dit al langs die gemerkte lyn uit om die voeë vir die pootstrukture te vorm.

2. Maak die pootstrukture deur ’n 300 mm-plank oor elke ent van die 460 mm-planke vas te lym en te skroef. Herhaal die proses en maak drie pootstrukture.

3. Gebruik die figuursaag en saag die “onderste” hoeke van die twee 1 900 mm-raamplanke skuins, soos op skets 3 aangedui. Meet en merk dan drie 22 mm-stroke op dié raamplanke: 100 mm van elke ent af en een in die middel. Lym en skroef die pootstrukture op dié merke tussen die lang raamplanke vas.

4. Meet en maak ’n merk 60 mm van elke ent en 20 mm van die kante af op die sewentien 600 mm-planke (d.w.s. 4 merke op elke plank, sien skets 4). Boor nou ’n gidsgat by elkeen van dié merke met die 3 mm-boorpunt. Dit verseker dat die skroewe netjies gespasieer en in ’n reguit lyn is.

5. Plaas die eerste 600 mm-plank presies haaks oor die middel van die raam. Maak seker dat die plank 50 mm aan elke kant oorhang en skroef vas met vier spaanderbordskroewe. Gebruik afvalstukkies hout as spasieerders en skroef ook die res van die 600 mm-planke aan die raam vas om die basis te voltooi.

6. Skuur die dagbed deeglik vir ’n gladde afwerking, en verseeël die hout met Woodoc Water-Borne DECK.