Projekgids
  • Harde werk 5/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig 3–4 uur
  • Klaar grootte sowat 1 300 (l) x 850 (b) x 550 mm (h)

PROJEKNOTAS

  • Maak altyd seker dat jou planke haaks is.
  • Dis belangrik om gidsgate te boor

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 38 x 114 mm-SA dennehoutplanke, soos volg gesaag: drie x 550 mm (basisstutte) drie x 850 mm (rugstutte), twee x 390 mm (armleuning) vier x 670 mm (armleuning en afronding) vyf x 1 300 mm (basis en boonste rugplank) een x 1 220 mm (rugleuning)
  • 50 x 76 mm-SA dennehoutplanke, gesaag in: twee lengtes van 1 500 mm (dra-stutte)
  • twintig 6 mm x 60 mm-spoorskroewe
  • vyftig 6 mm x 75 mm-spoorskroewe
  •  
  • 1 blikkie Woodoc Plus Life PRIMER
  • 1 blikkie Woodoc WaterBorne DECK Clear
  • 80-grint-skuurpapier
  • 6 mm-ketting (10 meter)
  • vier U-vormige 6 mm-harpboute
Wat is ’n Spoorskroef?

Spoorskroewe is ontwerp vir swaardienshegting van dik planke aanmekaar of hout aan metaal. – wisegeek.com

Gereedskap

  • koordlose boor en 4 mm-boorpunt
  • 16 mm-plaatboorpunt
  • 10 mm-sok en ratelsleutel
  • figuursaag
  • maatband
  • potlood
  • winkelhaak

So maak jy ...

1. Meet en merk 76 mm en 50 mm op albei ente van die drie 850 mm-basisstutte se “onderkant” en saag dié hoeke uit vir die dra-stutte. Meet ook 200 mm aan die onderkant (agter) en 170 mm daarbo, en verbind die twee merke om die skuins helling van die rugkant te bepaal.

2. Plaas een 550 mm-rugstut op die skuins lyn en heg vas met twee 6 mm x 60 mmspoorskroewe. Herhaal en maak drie sulke basis-en-rugstutte.
Wenk Gebruik die 4 mm-boorpunt om gidsgate te boor en die 16 mm-plaatboorpunt om die skroewe te versink.

3. Meet en merk 100 mm vanaf elke ent van die twee 1 500 mm-dra-stutte. Skroef ’n basis-en-rugstut by elk van dié merke vas, en skroef die derde stut in die middel tussen die twee vas; gebruik 6 mm x 75 mm-spoorskroewe.

4. Skroef ’n 670 mm- en ’n 390 mm-plank haaks aanmekaar en skroef dit dan aan die stutraam vas met die 6 mm x 60 mm-spoorskroewe. Herhaal aan die ander kant; sorg dat die vertikale  plank telkens aan die “buitekant” is.

5. Gebruik afvalblokkies en spasieer vier van die 1 300 mm-planke eweredig om die basis te vorm en skroef vas met 6 mm x 75 mm-spoorskroewe. Skroef die vyfde 1 300 mm-plank heel bo aan die rugleuning vas, met die 1 220 mm-plank daaronder.

6. Plaas die orige twee 670 mm-planke bo-op die armleunings en skroef vas met 6 mm x 75 mmspoorskroewe. Skuur die bank glad en verseël.

7. Heg ketting of tou aan die vier dra-stutte van die bank en maak jou gereed vir lang aande op die stoep. Gebruik U-vormige harpboute om die ketting te heg.

Versorg jou swaaibankie

Frikkie Greeff, Woodoc se besturende direkteur, stel voor jy gebruik Woodoc Plus Life PRIMER gevolg deur Woodoc WaterBorne DECK Clear: “Dié kombinasie sal hout vir buitegebruik se lewensduur verleng. Dis vinnig en maklik om aan te wend, droog redelik vinnig en het dan ’n harde oppervlak wat nie stof sal aantrek nie, maar steeds ’n natuurlike voorkoms hê.”

Vir die beste resultate, maak seker jy volg die aanwysings op die verpakking. Wend altyd ’n ruim laag Woodoc Plus-Life PRIMER aan, gevolg deur drie ruim lae Woodoc WaterBorne DECK. Laat elke laag deeglik droog word voor jy die volgende een aanwend. Skuur liggies met fyn skuurpapier tussen lae.

Het jy geweet?
As jy graag jou swaaibankie ’n kontemporêre kleur wil gee, kan jy enige van Woodoc se COLOURS gebruik om Woodoc Water-Borne DECK te kleur. Dit is beskikbaar in 12 modieuse kleure soos 'Seaweed' en 'Mulberry', sowel as 8 natuurlike houtkleure soos 'Imbuia' en 'Meranti'.