Foto’s Francois Oberholster en Stephane van Eck l Stilering Marian van Wyk

PROJEKGIDS

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 2 tot 3 uur

Maak dit self vir R1440:

Hout R950,

skroewe en skarniere R80,

gom R40,

skuurpapier R10,

wiele R360

(verf is opsioneel)

PROJEKNOTAS

• Gaan vra mooi by jou naaste graniethandelaar vir ’n oorskietstuk graniet, kwarts of marmer en gebruik dit as blad bo-op jou trollie.

• Ons het oorskietverf (Plascon Clouded Cover) gebruik en net sekere dele van die trollie geverf.

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• 21 mm-laaghout, gesaag in die volgende panele:

twee 900 x 460 mm (sypanele)

een 900 x 708 mm (rugkant)

twee 900 x 350 mm (sye van die gassilinderkas)

een 418 x 350 mm (rak vir die gassilinderkas)

twee 1 100 x 460 mm (bo- en onderkant)

een 708 x 300 mm (rak vir laaie)

een 300 x 130 mm (verdeler tussen laaie)

vier 300 x 100 mm en

vier 295 x 100 mm (laairame)

twee 295 x 258 mm (laaibodems)

twee 150 x 360 mm (laaivoorkante)

een 418 x 50 mm (versterking vir die gassilinderkas)

een 890 x 450 mm (deur vir die gassilinderkas)

• een pakkie 6 mm x 50 mm-spaanderbordskroewe

• twee kabinetskarniere

• een handvatsel

• twee of meer hake

• 200-grint-skuurpapier

• Alcolin-silikonseëlaar

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm-boorpunt

• potlood

• maatband

Só maak jy ...

1 Meet en merk 300 mm vanaf ’n lang sy van die twee 900 x 460 mm-sypanele en boor gidsgaatjies. Skroef die 900 x 708 mm-rugkant daar tussen die sypanele vas.

2 Skroef nou die twee 900 x 350 mm-sye van die gassilinderkas haaks teen een van bogenoemde sypanele vas. Meet en merk 250mm van die borand af en skroef die 418 x 350 mm-rak vir die gassilinderkas horisontaal daar vas. Laat die kas op sy rug lê en skroef die 1 100 x 460 mm bo- en onderkant ook vas.

3 Meet en merk 130 mm vanaf die borand van die kas (gebruik die 300 x 130 mm-verdeler as maat) om die posisie van die 708 x 300 mm-rak vir die laaie te bepaal. Skroef die rak daar vas; skroef dan die verdeler van bo en van onder af in die middel van die rak vas. Skroef ’n wiel op elke hoek onderaan die kas vas.

4 Maak ’n laairaam deur twee 295 x 100 mm-panele tussen die ente van twee 300 x 100 mm-panele vas te skroef; plaas ’n 295 x 258 mm-bodem binne-in die raam en skroef vas. Posisioneer die raam op ’n 150 x 360 mm-laaivoorkant en skroef dit van die binnekant af vas. Herhaal hierdie proses vir die tweede laai.

5 Gebruik ’n oorskietstuk leer of ou leergordel vir die laaihandvatsels. Sny dit so lank soos verlang en maak ’n gaatjie in elke ent; skroef een aan elke laaivoorkant vas. Skroef die 418 x 50 mm-versterking voor in die gassilinderkas vas. Monteer die deur met behulp van twee kabinetskarniere en skroef ’n handvatsel daaraan vas. Skroef hake vas waar dit vir jou gerieflik is om braaitoerusting aan te hang. Vul al die skroefgate met houtvuller en laat dit droog word voordat jy die trollie skuur en verf of vernis in die kleur of afwerking van jou keuse. Vir ’n voedselvriendelike werkoppervlak, plaas ’n kwarts- of granietblad bo-op die kas se blad; heg dit met silikonseëlaar.

Het jy geweet?
DIY Deon is nie voltyds in Tuis se diens nie, maar bedryf ’n eie onderneming. Dié vakman kan enigiets onder die son maak – van tafels tot kombuiskabinette en klerekaste. Indien jy Deon se dienste nodig het, stuur ’n e-pos na deon@diydeon.co.za of bel hom by 084 589 5026.
VERSKAFFERS