Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Projekgids

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10

Tyd nodig 2 uur

Maak dit vir ± R2 170: Hout R1 000, spoorskroewe R50, boute en moere R20, Alcolin Fast Set Wood Glue R30, skuurpapier R10, houtvuller R30, ou staalrak R500, poeierbedekking R200, wiele R330

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• geskaafde dennehout (32 x 220 mm), gesaag in ses lengtes van 650 mm

• rakstutte en knoopplate (“gussets”)

• Alcolin Fast Set Wood Glue

• een pakkie spoorskroewe (6 x 40 mm)

• vier rolwiele

• dennehoutvuller

• 220-grint-skuurpapier

• 8 mm-tappen, gesaag in 40 mm-lengtes

• twee 600 mm-lengtes tou van 1 cm dik

GEREEDSKAP

• koordlose boor en 3 mm- en 8 mm-boorpunt

• figuursaag

• ystersaag of hoekslyper

• potlood

• maatband

• winkelhaak

• houtklampe

Projeknotas
  • Ons het ’n tweedehandse staalrak uitmekaargehaal en die staalstutte hergebruik, maar jy kan gewone 50 x 3 mm-hoekyster vir dieselfde doel koop (R225 vir 6 m).
  • Ons trollie se drie rakke (650 x 440 mm elk) bestaan uit twee 220 mm breë planke wat met tappenne teen mekaar vasgesit is.
  • Ons het die hoekstutte en knoopplate laat poeierbedek.

Só maak jy...

1 Meet en merk die vier hoekstutte in die lengte wat jy verkies vir jou trollie se hoogte en saag dit met die ystersaag. Skuur enige growwe rande glad en laat dit saam met die knoopplate poeierbedek indien verkies. 

2 Maak die rakke deur die dennehoutplanke twee-twee teen mekaar op hul sykante neer te sit. Meet, merk en boor 8 mm-gate loodreg in elke sy vir die tappenne. Smeer die lang sye mildelik met houtlym, gebruik ’n tappen in elke stel gate en klamp die planke twee-twee aan mekaar.

3 Heg twee knoopplate met boute en moere aan die bo- en onderent van elke hoekstut. Posisioneer die boonste en onderste blad tussen die hoekstutte, boor gidsgaatjies waar die blaaie aan die hoekstutte en knoopplate moet vaskom en skroef die twee blaaie vas met die spoorskroewe.

4 Skroef ’n rolwiel op elke hoek van die trollie vas. Skroef die derde blad tussen die ander twee blaaie vas en draai die trollie regop. Vul alle sigbare skroefgaatjies met houtvuller en skuur glad.

Vir die handvatsels, boor twee gate sowat 5 cm van die hoeke af in die boonste rak. Druk ’n toulengte deur elke stel gate en maak ’n knoop in elke ent onder die blad.

Hout verskaf deur Timbercity

KONTAK EN VERSKAFFER