Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marilize Spies

Bou vir jou ’n kweekhuisie as jou werf knap is. Plaas dit teen ’n (verkieslik noordelike) muur en jy sal heeljaar kruie en groente kan verbou en tenger plante kan vertroetel.

Die behoefte aan gesonder kos is die dryfveer agter ons begeerte om binne stedelike gebiede te “boer”. Stedelike boerderye kan allerlei vorms en groottes aanneem en ’n plesierige manier wees om jou eie vars, bekostigbare organiese produkte te kweek. As jy in ag neem hoeveel duisende liter water grasperke jaarliks opslurp in vergelyking met hoe min ’n kombuistuin nodig het, is daar geen verskoning om nie dadelik ’n kombuisbedding te begin spit nie.

Projeknotas
  • Ons het ’n kweekhuisie gebou wat in ’n klein tuin teen ’n muur staangemaak kan word. Pas die algehele grootte vir jou beskikbare ruimte aan. Dis belangrik om ’n volledige plan te teken indien jy dié ontwerp wil aanpas – dit sal help met die opstel van jou materiaallys. Neem standaardmate van pale en blaaie in ag tydens jou beplanning om ’n vermorsing van materiaal en onnodige saagwerk uit te skakel.
  • Bou die struktuur voordat jy die glaspanele laat sny, aangesien die groottes van die openinge uiteindelik van die plan kan verskil.
PROJEKGIDS
  • Harde werk 7/10
  • Vaardigheidsvlak 5/10
  • Tyd nodig Twee dae
  • Klaar grootte ± 2 000 mm (h) x 1 300 mm (b) x 600 mm (d)

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • tien 2 700 mm-lengtes 45 x 45 mmbehandelde dennehout, gesaag in: drie 2 000 mm-lengtes (regop stutte agter); drie 1 800 mm-lengtes (regop stutte voor); vier 1 350 mm-lengtes (onderste stutte en dakraam); ses 580 mm-lengtes (skuins en dakstutte); ses 500 mm-lengtes (dwarsstutte tussen voorste en agterste regop stutte); vier 600 mm-lengtes (lang dwarsstutte bo)
  • 2 700 x 44 x 22 mm-dennehout, gesaag in: vier 1 360 mm-lengtes (deurrame, kante); vier 596 mm-lengtes (deurrame, bo en onder); twee 552 mm-lengtes (deurrame, dwarsstutte)
  • vyf 3 000 mm-lengtes 44 x 10 mm dennehout-dekstrook, gesaag in: vyftien 3 000 x 10 x 10 mm-raamlyste
  • denne-laaghout, gesaag in: twee 600 x 500 mm-rakke (onder); een 660 x 500 mm-rak (middel)
  • 4 mm-glas, gesny om in die uiteindelike openinge te pas
  • 6 kasskarniere

Gereedskap

  • boor en koordlose boor; 3 mm- en 8 mm-boorpunte
  • tekendriehoek
  • hamer
  • potlood
  • maatband
  • lym
  • 75 mm-snyskroewe
  • 40 mm-snyskroewe
  • paneelspykers
  • 120-grint-skuurpapier
  • houtseëlaar (of vernis)
  • verfkwas

So maak jy

1. Saag die 2 700 x 45 x 45 mm-lengtes op maat met die figuursaag en ’n growwe lem. Saag dan albei ente van die 580 mm-lengtes teen hoeke (ongeveer 25 grade) om die helling te vorm.

2. Trek nou ’n lyn 400 mm en nog een 1 100 mm van die “onderste” ent van elk van die 2 000 mm- en 1 800 mm-lengtes af. Trek nog ’n lyn 45 mm onder dié lyne.

3. Maak drie afsonderlike rame (sien skets) deur die ses 500 mm-dwarsstutte by bogenoemde punte tussen die regop stutte vas te sit. Boor eers ’n paar 3 mm gidsgate in elke plank en skroef die dwarsstutte met die 75 mm-snyskroewe vas; wend ’n druppel waterdigte lym aan om die struktuur te versterk.

4. Skroef die 580 mm-lengtes met die skuins ente wat jy in stap 1 gesaag het, aan die bokant van elke raam vas.

5. Sit die drie rame 600 mm uitmekaar neer en verbind hulle deur die twee 1 350 mmonderste stutte binne die rame vas te skroef.

WENK Gebruik ’n hoekklamp of tekendriehoek om seker te maak dat al jou lasse haaks is.

6. Skroef die 600 mm-lengtes aan die bokant tussen die rame vas om die struktuur te voltooi. (Onthou om eers gidsgate te boor, en posisioneer jou skroewe tussen die voriges.)

7. Plaas die rakke in posisie in die raamwerk en skroef dit met die 40 mm-snyskroewe vas.

8. Maak die dakraamwerk deur die drie 580 mm-lengtes tussen die oorblywende twee 1 350 mmlengtes vas te skroef.

9. Sit die dakraam aan die bokant van die kweekhuisraamwerk vas met die kasskarniere en 40 mmsnyskroewe.

10. Maak die deurrame met die onderskeie 44 x 22 mmdennehoutlengtes. Wend lym by die lasplekke aan voor jy dit met die 40 mm-snyskroewe aanmekaarskroef.

11. Sit die deure aan die binnekant van die raamwerk vas met behulp van die skarniere en 40 mm-snyskroewe.

12. Sit die raamlyste in. Saag die 3 000 x 10 x 10 mm-stroke in die regte lengtes om in die openinge te pas. Begin met die “binneste” lyste en kap dit met die paneelspykers vas.

TER AFRONDING: Skuur skerp hoeke en wend ’n onderlaag of vernis oor al die oppervlakke aan. Laat dit droog word en verf die struktuur met een of twee lae verf in die kleur(e) van jou keuse. Sodra die verf droog is, kan jy die glaspanele insit. Seël dit met ’n silikoon-kleefmiddel of nog raamlyste aan die “buitekant”.

Ashley sê: Moenie agter ’n gebrek aan spasie skuil om nie te begin tuinmaak nie. Jy kan met so min as ’n paar potte kruie en slaai op ’n sonnige vensterbank begin.