Hou die kleinspan besig met dié projekte. ’n Grootmens moet hand bysit met die warmgom sodat klein vingertjies nie verbrand nie.

Wat jy nodig het:

  • Nespresso-doppies (foelie verwyder en skoongemaak)
  • warmgompistool
  • tou
  • houtkrale van verskillende grotes
  • merkpen
  • lint
  • watte
  • stok

Só maak jy klokkies:

Ryg twee stukkies tou deur ’n Nespresso-doppie, en maak klein kraletjies vas aan die tou sodat dit net-net onder die doppie uitsteek.

Só maak jy ’n sneeuman:

Ryg ’n stukkie tou deur twee groot krale, ’n mediumgroot een en dan deur ’n Nespresso-doppie. Maak ’n knoop onder die laaste groot kraal. Plak die doppie skuins teen aan die mediumgroot krale vas sodat dit soos ’n hoed sit. Bind ’n stukkie lint om as ’n serp. Teken ’n gesiggie en knope.

Só maak jy ’n Kersvader:

Ryg tou deur ’n groot kraal en ’n Nespresso-doppie. Maak ’n knoop aan die onderpunt. Plak die doppie skuins teen aan die mediumgroot krale vas sodat dit soos ’n hoed sit. Knip die watte só dat dit soos ’n baard lyk en plak vas met die warmgompistool. Teken ogies met die merkpen.

Maak al jou versierings aan ’n stok vas en hang op, of hang jou versierings aan jou Kersboom.

Video: Francois Oberholster • Redigering: Suné Esterhuizen • Musiek: www.bensound.com