Foto’s Francois Oberholster

#1 Met gips

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • ballon
  • gips
  • 6 rolle verband
  • water
  • lig-passtuk

GEREEDSKAP

  • ’n emmer om in te meng
  • ’n bakkie om die ballon in te hou
  • skêr
  • boor met 8 mm-boorpunt
Projekgids
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 2 uur, droogtyd uitgesluit
  • Doen dit self vir R257: Ses rolle gewone verband R9,50 elk, gips R47, pak ballonne R24, lig-passtuk R129

Só maak jy ...

1. Blaas jou ballon op; hoe groter jou ballon, hoe groter die hanglamp. Sit dit regop in die bakkie.

2. Meng die gipspoeier met ’n bietjie water (die mengsel moet so dik soos pannekoekbeslag wees). Doop die verbande in die gips en draai dit om die ballon; bedek soveel moontlik van die oppervlak. Jy moet oraloor minstens ’n dubbellaag verband hê, en onthou om ’n opening (omtrent so groot soos ’n piering) aan die onderkant te los.

3. Knip enige oortollige verband aan die onderkant netjies af.

4. As jy tevrede is met hoe jou verband lyk, laat die gips ’n bietjie verhard (laat dit in die bakkie staan). Kyk vir oneweredige kolle en smeer die gips met jou hand tot dit oral ewe dik is, maar moenie die tekstuur van die verband heeltemal verbloem nie. Laat dit 72 uur staan om droog te raak.

5 Bars die ballon en haal dit uit die harde dop. Maak die opening effens groter.

6. Boor ’n gat aan jou gips-dop se bopunt. (Omdat dit ’n organiese fatsoen is, maak dit nie saak as jou gat nie presies oorkant die onderste opening is nie; skat sommer net min of meer waar die bopunt is.)

7. Ryg die elektriese koord deur die gat en hang jou lamp op. Wenk Vra liefs ’n gekwalifiseerde elektrisiën om jou lamp te verbind.

#2 Waspapier

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • papierlantern
  • waspapier
  • lig-passtuk

GEREEDSKAP

  • skêr
  • gompistool
PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 2 uur
  • Doen dit self vir R180: Papierlantern R25, waspapier R26, lig-passtuk R129

Só maak jy ...

1. Knip ’n 20 cm lange stuk waspapier af. Vou dit dubbel in die lengte af en dan in die breedte. Jy moet dan ’n reghoek van sowat 5 x 10 cm hê.

2. Knip ’n peervorm uit die reghoek wat jy in stap 1 gemaak het – dit sal jou 4 peervormige velle papier gee. Herhaal dié proses tot jy sowat 60 velle het.

3. Sit die draadstut in jou papierlantern.

4. Begin aan die onderkant van die lantern: Plak die papier se ronde kant aan die lantern vas met die warm gom. Werk al in die rondte boontoe tot by die lantern se boonste opening. Jy sal dalk nog papier moet knip, afhangend van jou lantern se grootte. Heg die lantern aan die lig-passtuk en hang dit op.

#3 Vere-boa

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • papierlantern
  • 4 vere-boas
  • lig-passtuk

GEREEDSKAP

  • skêr
  • warmgompistool
PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 1 uur
  • Doen dit self vir R294: papierlantern R25; vier vereboas R35 elk; lig-passtuk R129

Só maak jy ...

Gebruik die warmgompistool en plak die vere-boas al in die rondte om die papierlantern.

VERSKAFFER

Blomme van Woolworths 0860 022 002