Wat jy nodig het

  • as versierings: enige herfsblare, sade, bessies en roosbottels
  • ’n takkie of stokkie om dit aan te hang (of gebruik ’n hanger)
  • dun draad
  • tang

So maak jy

1. Bind draadjies van verskillende lengtes aan die stokkie vas (spasieer die draadjies sowat 3–5 cm uit mekaar). Die draadjies moet aanvanklik langer hang as wat jy dit op die ou end wil hê, want die blare en sade moet nog daarmee vasgedraai word. Moet ook nie almal ewe lank afknip nie – die verskillende lengtes maak jou herfsbewertjie interessant.

2. Draai nou aan elke draadjie ’n paar herfsversierings vas – sowat vyf tot sewe per draadjie is genoeg, afhangend van hoe lank die draad is. Bind die draad om die steeltjies of druk dit selfs deur die sade en roosbottels. Moenie die versierings presies eweredig uit mekaar spasieer nie – laat dit vry en natuurlik lyk. Maak ook seker jou herfsversierings sit stewig sodat dit nie afval nie.

3. Heg ’n herfsversiering op elke draad se punt sodat dit nie net stomp eindig nie.

Wenke

  • Hang jou bewertjie voor ’n venster, teen ’n kas of aan ’n tak waar jy dit kan geniet! Die blare sal met verloop van tyd doodgaan, maar bly steeds mooi.
  • Gebruik die dunste draad wat jy kan kry. Dikker draad is te opsigtelik en buig moeilik. Ons het 0,7 mm-Easi-Coil-draad gebruik