Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 1 dag
  • Maak dit self vir R1 620: krale R770, draad-lampskerm R850

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • houtkrale in drie groottes: 30 mm (1,5 kg); 25 mm (1 kg); 10 mm (1 kg)
  • koperdraad-lampskerm
  • dun draad

GEREEDSKAP

  • sykniptang
  • langbektang

So maak jy

1. Meet die lengte van die bopunt van die lampskerm tot die middelste sirkel, tel sowat 5 cm by en knip 26 stukke draad van dié lengte. (Daar is 26 spasies tussen die vertikale drade op ons lampskerm; pas joune volgens jou lampskerm aan.)

2. Maak een punt van die draad aan die lampskerm se middelsirkel vas en ryg die houtkrale daaraan. Ons het ons s’n so geryg: drie 30 mm-krale met 10 mm-krale tussenin, gevolg deur drie 25 mm-krale met 10 mm-krale tussenin, en dan sewentien 10 mm-krale tot by die lampskerm se bopunt.

3. Maak die draad aan die boonste sirkel vas en knip enige oortollige draad af.

4. Herhaal stap 2 en 3 tot die boonste deel van die lampskerm voltooi is.

5. Doen dieselfde met die onderste hefte van die lampskerm. Ons het die volgorde verander: Elke tweede string het drie 30 mm-krale met 10 mm-krale tussenin, gevolg deur vyf 25 mm-krale met 10 mm-krale tussenin en laastens vyf 10 mm-krale tot teen die skerm se onderpunt. Dié stringe is afgewissel met stringe van: vier 10 mm-krale, dan twee 30 mm-krale met ’n 10 mm-kraal tussenin, gevolg deur vier 25 mm-krale met 10 mm-krale tussenin, en laastens agt 10 mm-krale. Vir afronding, knip nege 30 cm-lengtes draad en ryg sestien 10 mm-krale aan elkeen. Maak dit aan die kandelaber se basis in ’n skulppatroon vas sodat elke skulp die vorige een oorvleuel. Knip enige oortollige draad af. Houtkrale van Global Beads; koperdraad-lampskerm van Abode

VERSKAFFERS
  • Abode 072 261 3540, abode.co.za
  • Global Beads 021 976 8091, globalbeads.co.za