Wat jy nodig het

  • afval-dennehoutplank (sowat 30 cm breed)
  • gedraaide dennehoutpoot (sowat 13 cm hoog)
  • passer
  • G-klampe
  • figuursaag
  • skuurpapier
  • Woodoc Waterborne FLOOR Clear Matt
  • Woodoc Colours Ebony
  • houer om in te meng
  • mengstokkie
  • verfkwaste
  • boor, gidsboorpunt en 8 mm-houtboorpunt
  • skroef
  • fyn skuurpapier
  • houtlym
  • houtvuller

Só maak jy ...

Trek met jou passer ’n sirkel van sowat 30 cm in deursnee op die dennehoutplank.

2 Klamp die plank aan jou werkblad vas en saag die ronde skyf met ’n figuursaag uit.

3 Skuur die rande glad.

4 Skink sowat 75 ml Woodoc Waterborne FLOOR Clear Matt in ’n menghouer. Voeg Woodoc Colours Ebony by en meng goed.

5 Wend twee lae van hierdie mengsel op die gedraaide houtpoot aan; wag tot die eerste laag goed droog is voor jy die volgende laag aanwend.  Skuur liggies met fyn skuurpapier na die eerste laag droog is.

6 Boor ’n gidsgat in die middel van die houtskyf en versink dan die gat met die 8 mm-boorpunt. Draai die skroef halfpad in.

Smeer houtlym aan die bokant van die poot.

8 Plaas die houtskyf op die geverfde poot (laat die skroef jou lei om dit presies in die middel te posisioneer). Skroef vas.

9 Vul die skroefgat met houtvuller, wag tot dit droog is en skuur glad.

10 Rond die houtskyf af deur een laag Woodoc Waterborne FLOOR Clear Matt aan te wend. Laat dit droog word, skuur liggies met fyn skuurpapier en wend dan nog ’n laag aan.