PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 3 uur, plus droogtyd
  • Doen dit self vir R336: kaasdoek R100, polikatoen R45, stopsel R155, kleursel R30, ritssluiter R6

Lamp, strooikussing en vlootblou deken van MRP Home; kussingoortreksels van Woolworths; pompon-deken van @home

Wat jy nodig het

Inkopielys

  • 1,8 m wit polikatoen
  • 5 kg stopsel
  • 1,8 m kaasdoek
  • 50 cm-ritssluiter
  • lapkleursel in die kleur van jou keuse (ons het Tingecore in vlootblou gebruik)
  • twee houtblokke (sowat 10 x 17 cm)
  • rekkies

GEREEDSKAP

  • potlood
  • reghoek
  • maatband
  • skêr
  • naaimasjien
  • omkapmasjien (opsioneel)
  • mengbak
  • groot pot
  • latekshandskoene
  • knyptang

So maak jy ...

Eers die kussing

1. Meet en knip ’n strook polikatoen van 110 x 163 cm uit; gebruik die reghoek om seker te maak jou lyne is reguit.

2. Vou die polikatoen dubbel in die lengte en stik een kort sy en een lang sy toe met die omkapmasjien. Draai die lap om sodat die regte kant na buite en die naat na binne wys.

3. Stop die kussing met die stopsel en werk die laaste naat met die hand toe.

Dan die oortreksel

4. Vou die kaasdoek soos ’n konsertina, eers in die lengte af en dan in die breedte. Plaas ’n houtblok aan weerskante en hou dit in plek met die rekkies; daar moet reg rondom die blokke sowat 2–3 cm van die lap uitsteek.

5. Meng die kleursel volgens die aanwysings by kookwater (genoeg om die lap te bedek) in ’n kastrol.

6. Plaas die lap en blokke in die kokende kleursel en kook soos aangedui – die soort kleursel en die kleur sal bepaal vir hoe lank. Haal die lap versigtig uit die kookwarm kleursel met ’n knyptang en handskoene. Verwyder die houtblokke en spoel die lap uit totdat die spoelwater skoon en helder is. Hang op tot droog.

7. Knip die gekleurde lap in ’n strook van 113 x 166 cm, vou dit dubbel in die lengte en stik die naat aan die lang sy en een van die kort sye toe.

8. Kap die rand van die opening om voor jy die rits insit.

9. Stik die opening 6 cm kleiner aan weerskante, en stik dan die ritssluiter in die opening vas.

VERSKAFFERS
  • @home 0860 666 674, home.co.za
  • MRP Home 0800 212 535 mrphome.com
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za