Foto’s Francois Oberholster

PROJEKGIDS

Harde werk 2/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig Naweekprojek

Doen dit self vir ±R343 (bedrukte lap uitgesluit*):

Watteersel R68, lakenstof R132, skuinsband R23, borduurgare R120

* bedrukte lap vanaf R350/m²

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

• 2 x 2 m bedrukte lap

• 2 x 2 m watteersel

• 2 x 2 m lakenstof

• 10 stringe borduurgare in dieselfde kleur

• 10 m skuinsband

GEREEDSKAP

• skêr

• spelde

• plank (144 x 22 x 2 400 mm) as spasieerder en reihout (of gebruik ’n liniaal)

• wateroplosbare merkpen

• borduurnaald

• omkapmasjien

• strykyster

• naaimasjien

Só maak jy ...

1 Sit die bedrukte lap op die watteersel neer en knip die watteersel net so groot soos die lap.

2 Knip ook die lakenstof in dieselfde grootte.

3 Plaas die watteersel tussen die bedrukte lap en die lakenstof (sorg dat die bedrukte lap se buitekant buite is). Steek die drie lae al om die rand aan mekaar vas.

4 Posisioneer die plank op die rand van die materiaal en trek ’n lyn oor die breedte met die merkpen. Gaan voort en trek lyne oor die hele lap; gebruik deurgaans die plank as spasieerder. Doen dan dieselfde oor die hele lengte van die materiaal.

5 Werk nou met die naald en borduurgare rygsteke oor al die lyne wat jy in stap 4 oor die breedte en oor die lengte van die lap getrek het. Wees maar geduldig, dis ’n taamlik tydrowende proses.

6 Wanneer jy al die lyne met rygsteke gewerk het, stik die drie lae reg rondom aan mekaar vas met jou omkapmasjien.

7 Gebruik die strykyster om die skuinsband dubbel te vou.

8 Vou die skuinsband om die rand van die kwilt en steek vas.

9 Stik die skuinsband vas met jou naaimasjien. Wenk Moenie by ’n hoek begin nie; begin liewer êrens in die middel van ’n sy.

10 Wanneer jy by ’n hoek kom, hou aan stik tot teen die rand van die kwilt.

11 Lig die masjien se naald uit die materiaal en vou die skuinsband om die hoek van die kwilt sodat dit ’n verstekhoek vorm; steek vas en stik verder tot reg rondom.

12 Wanneer jy die beginpunt nader, knip die skuins-band sowat 3 cm verby die begin-punt af. Vou die band om en stik dit oor die beginpunt vas.

Let wel Die merkpen se lyne sal met die eerste was verdwyn.

VERSKAFFERS

SmartArt 021 447 0872

Woolworths 0860 022 002