PROJEKGIDS

Harde werk 1/10
Vaardigheidsvlak 1/10
Tyd nodig 2 uur
Doen dit self vir ± R1792 (haarnaaldpote R300 elk, vel R450, spons R85, hout R57) 

Foto’s Francois Oberholster 

Wat jy nodig het 

INKOPIELYS

  • spaanderbord
  • spons op maat gesny
  • watteersel
  • aanspuit-kleefmiddel
  • diervel (ons het blesbok gebruik)
  • vier 420 mm-haarnaaldpote
  • sestien 4 x 20mm- droëmuurskroewe

GEREEDSKAP

  • potlood
  • maatband
  • G-klampe
  • figuursaag
  • skêr
  • kramgeweer
  • skroewedraaier

So maak jy

1. Ons het die grootste moontlike reghoek gemeet waaroor die vel sou pas en die spons 10 cm kleiner reg rondom laat sny. Ons vel- reghoek was op die ou end 86 x 66 cm, daarom is ons spons 66 cm lank x 46 cm breed; pas dié mate aan by die grootte van jou diervel. Sit die spons op die spaanderbord neer en trek die vorm daarop af.

2. Maak die spaanderbord aan jou werkoppervlak vas met die G-klampe en saag dit uit op die lyne wat jy in stap 1 getrek het.

3. Spuit die kleefmiddel aan die spaanderbord en plak die spons daarop vas.

4. Sit die spaanderbord en spons op die watteersel neer (spons onder) en knip dit sowat 15 cm groter reg rondom.

5. Vou die watteersel oor die spons en kram aan al vier sye van die spaanderbord vas. Knip enige oortollige watteersel by die hoeke af en kram netjies vas. 

Wenk: Kram so na moontlik aan die rand van die spaanderbord. 

6. Knip enige oortollige watteersel tot net langs die kramme af. 

7. Lê die sitplek in die middel van die vel neer met die spons na onder. Knip die oortollige stukke vel rofweg af. 

8. Vou die vel oor die spaanderbordrande en kram vas. Doen eers die kort sye en trek die vel styf terwyl jy werk. Herhaal met die lang sye. Probeer weer so na moontlik aan die rand van die spaanderbordbasis vaskram. 

9. Vou die hoeke asof jy ’n geskenk toedraai en kram vas.

10. Knip enige oortollige vel tot net langs die kramme af. 

11. Posisioneer die pote 3,5 cm van die spaanderbord se rand af en skroef elkeen op sy plek vas.

VERSKAFFERS