PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 3/10
  • Tyd nodig ’n Naweek
  • Doen dit self vir R429: tou R272, spuitverf R100, karabynhaak R57 

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • ou draadstoel
  • Rust-Oleum Stops Rust-metaalonderlaag
  • Rust-Oleum Chalked-spuitverf in Serenity Blue
  • sowat 150m gevlegte poliëster- of valskermtou (4mm)
  • 12mm-karabynhaak 

GEREEDSKAP 

  • ystersaag
  • bankskroef
  • draadborsel
  • skêr 

So maak jy 

1. Knyp die stoel se pote in die bankskroef vas en saag hulle af met die ystersaag. 

2. Verwyder al die los verf en roesstukkies met die draadborsel. 

3. Berei die draadoppervlak voor met Rust-Oleum Stops Rust-metaalonderlaag e dan twee lae Rust-Oleum Chalked-sp aan; laat elke laag goed droog word. 

4. Gebruik die riemslagknoop (sien onder) en heg 10 x 3m-lengtes van die tou aan elke arm van die stoel. Skep dan ’n patroon met verspringde platknope. Ons het die patroon net tot halfpad tussen die bokant van die armleuning en die sitplek gevolg, die tou deur die kant van die sitplek geryg en toe nog drie patroonrye onder die sitplek geknoop. 

5. Knip die oorblywende tou sowat 25 cm onder die laaste ry knope af.

Wenk Draai kleeflint om die tou waar jy dit wil afknip – dit sal keer dat die tou uitrafel. Skroei dan die punte met die vlam van ’n kers of sigaretaansteker.  

6. Knip 2 x 6m-lengtes tou vir elk van die twee voorste bande waaraan die swaai gaan hang en heg dit aan die voorste hoeke van die sitplek. Knip ook 2 x 5 m-lengtes tou en maak dit aan die buitehoeke van die rugleuning vas. Gebruik halwe platknope en maak ’n 1 m lange spiraal vir elke voorste hangband. Knoop die agterste bande tot op dieselfde hoogte as die voorstes. 

Hang op Bring die vier hangbande bymekaar bo die stoel, maak seker die stoel hang gelyk en knoop al die toue stewig aan die karabynhaak vas. Nou is jou swaaistoel gereed vir ophang! 

Wenk

Wanneer jy die toue vir die hangbande aan die stoel heg, sorg dat een ent dubbel so lank as die ander een is; kies die korter toulengtes vir die middelste twee toue en gebruik die langer lengtes om die knope mee te maak. 

Macramé-knope

RIEMSLAGKNOOP 

(waarmee die meeste projekte begin) Vou die macramé-tou dubbel. Plaas die middelpunt oor die stok of ring, bring dit onder die stok deur en trek die tou aan die voorkant van bo na onder deur die lus. Trek die toue styf om die knoop te verstewig.

HALWE PLATKNOOP

Dié knoop word met vier toue gemaak: Die twee binneste (pienk en blou) toue ondersteun die knoop wat jy met die twee buitenste (oranje en donkerblou) toue maak.

1. Bring die regterkantse (donkerblou) tou horisontaal na links oor die twee middelste toue.

2. Neem die linkerkantse (oranje) tou om die horisontale (donkerblou) tou na agter, onderdeur die twee middelste toue en deur die (donkerblou) lus regs. 

3. Trek styf om ’n halwe platknoop te vorm. 

4a. Herhaal stap 1 tot 3 – dit sal ’n natuurlike spiraal vorm

PLATKNOOP

Dis eenvoudig ’n halwe platknoop gevolg deur sy spieëlbeeld. Maak die halwe platknoop soos in stap 1–3 hierbo.

4b. Bring dan die linkerkantse (donkerblou) tou horisontaal na regs oor die middelste (pienk en blou) toue.

5. Slaan die regterkantse (oranje) tou oor die horisontale (donkerblou) tou na agter, onderdeur die middelste twee toue en trek dit deur die (donkerblou) lus links. 

6. Trek styf om ’n platknoop te vorm. 

PATROON MET VERSPRINGDE PLATKNOPE 

Knoop die eerste ry deur ’n platknoop met die eerste vier toue te maak en herhaal tot aan die einde van die ry. Vir die tweede ry slaan jy die eerste twee toue oor en begin met die volgende vier toue; knoop totdat daar twee toue op die end oorbly. Die derde ry begin weer (soos die eerste ry) met die eerste vier toue, ensovoorts.

VERSKAFFER MRP Home 0800 212 535, mrphome.com