Wat jy nodig het

  • dennehoutplank (44 mm x 69 mm x 1,8 m)
  • maatband
  • figuursaag
  • boor
  • G-klampe
  • skuurpapier
  • bankskroef
  • plaatboorpunte (35 mm en 25 mm)
  • Woodoc Water-Borne Floor Clear Matt
  • Woodoc Colours Yellow en Opal
  • houers vir meng
  • mengstokkies
  • maskeerband
  • ronde plakkers (30 mm)
  • verfkwaste

So maak jy ...

1 Meet en merk twee dele van 185 mm elk op die dennehoutplank.

2 Klamp die plank aan jou werkblad vas en saag dit in twee blokke by die merke wat jy in stap 1 gemaak het.

3 Skuur die rande glad.

4 Merk op elke blok waar jy drie gate, eweredig gespasieer, gaan boor. Vir die planthouer gaan jy met die 35 mm-boorpunt gate boor in die breë sy; vir die grimeerkwas-houer gaan jy met die 25 mm-boorpunt in die smal sy boor.

5 Knyp die blokke in die bankskroef vas (of klamp dit met 'n G-klamp aan jou werkbank) en boor die gate op die merke wat jy in stap 4 gemaak het.

6 Giet sowat 70 ml Woodoc Water-Borne Floor Clear Matt in twee houers. Voeg ’n bietjie Woodoc Colours Yellow by een houer en Woodoc Colours Opal by die ander een. Meng goed.

7 Merk die patroon wat jy op die houtblokke wil hê met die maskeerband en ronde plakkers.

8 Verf elke blok met twee lae van die Woodoc-kleurmengsels; laat goed droog word tussen lae.

9 Trek die plakkers en maskeerband af en wend nog twee lae Woodoc Water-Borne Floor Clear Matt aan om die res van die hout te seël.