PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 3 uur
  • Doen dit self vir ± R500 (seil R160, PVC-pype R95, PVC-hegstukke R150, PVC Weld R38, Velcro R30, lapverf R25)

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • 4 m PVC-pype (40 mm)
  • 4 PVC-T-pype (40 mm)
  • 4 PVC-elmboogpype (40 mm)
  • 4 sluitproppe (40 mm)
  • 1 x 1,6 m seil (400 gm)
  • PVC Weld (50 ml)
  • 4 m Velcro (30 mm)
  • groot aartappel
  • lapverf

GEREEDSKAP

  • ystersaag
  • bankskroef
  • L-liniaal
  • skêre
  • potlood
  • mes
  • ystersaag
  • naaimasjien
  • spelde
  • liniaal

Ons bed is geskik vir ’n middelslag- of groot hond; as joune ’n bietjie lywiger is, beveel ons aan jy gebruik breër Velcro (50–60 mm breed) om vir die ekstra gewig te vergoed.

So maak jy

1. Klamp die PVC-pyp in die bankskroef vas en saag dit in die volgende lengtes: • twee 1 m • twee 600 mm • vier 40 mm • vier 150 mm.

2. Sit ’n elmboogpyp op elke ent van die twee 600 mm-pype vas met die PVC Weld. Lym en druk ’n 40 mm-pyp in die oop kant van elke elmboogpyp, gevolg deur ’n T-pyp. Maak seker die elmboog- en T-pype is haaks. Jy moet nou twee identiese sye hê. Lym en druk die 1 m-pype in die T-pype sodat dit ’n reghoek vorm.

3. Vir die pote, draai die sluitproppe aan een ent van die 150 mm-pype vas en lym dit in die T-pype.

4. Meet en knip die seil op maat: 1 x 1,55 m.

5. Sit die PVC-raam op die seil neer. Gebruik nou die L-liniaal en trek ’n lyn van die buiterand van onderskeidelik die elmboogpyp en die T-pyp na die rand van die seil. Verbind dié lyne aan die binnekant van die raam. Knip die vorm op elke hoek van die seil uit. Wenk Meet en merk net een hoek en gebruik die stuk seil wat jy afgeknip het as patroon vir die ander drie hoeke.

6. Vou die skuins, uitgeknipte rande van die seil om met 1,5 cm. Stik die naat met swart gare vir ’n netjiese bostik-voorkoms.

7. Vou die lang rande van die seil ook met 1,5 cm om. Steek die wollerige helfte van die Velcro hieraan vas; knip dit op maat en stik vas.

8. Posisioneer die raam in die middel van die seil; vou die seilrande oor die pype en merk waar dit lê. Voeg ’n ekstra 1,5 cm na die middel van die seil by; dis waar die binnerand van die growwe Velcro aan die seil vasgestik moet word. Gebruik dié keer roomkleurige gare sodat dit by die seil se kleur pas. Steek die Velcro op die merk vas en stik vas.

9. Sit die seil aan die raamwerk vas met die Velcro; jy sal dit effens moet styftrek. Roep nou die hond – dis tyd vir lê!

Versier die seil

Maak ’n stempel deur ’n kruis in die vlees van ’n deurgesnyde aartappel te sny. Doop die aartappelstempel in die lapverf en druk ’n patroon op die lap uit. Wag tot die verf heeltemal droog is en stryk oor die patroon om die verf permanent aan die seil te heg.