Wat jy nodig het

GEREEDSKAP

  • deurslagpapier
  • pen
  • G-klampe
  • figuursaag
  • kwas
  • bokhaar-roller en verfbak
  • maatband
  • staalliniaal
  • potlood
  • boor met 18 mm-plaatboorpunt
  • klophamer

INKOPIELYS

  • patroon
  • 6 mm-Supawood
  • Plascon School Board Paint
  • alkant-kleeflint
  • 32 mm x 69 mm x 1,8 m-PAR-dennehout
  • bankskroef
  • 18 mm x 1,8 m-tappen
  • 100-grint-skuurpapier
  • Alcolin Fast Set Wood Glue
  • 2 spieëlhegplaatjies

So maak jy ...

1. Laai die patroon hier af en druk dit uit. Gebruik die deurslagpapier en pen om dit op die Supawood af te trek. Ons het drie gemaak.

2. Maak die Supawood aan jou werkblad met die G-klampe vas en saag die vorms versigtig met die figuursaag uit.

3. Verf die vorms met twee lae Plascon School Board Paint; laat die verf tussen die lae droog word. Gebruik ’n kwas vir die rande en ’n roller op die oppervlak.

4. Wag tot die tweede laag heeltemal droog is en plak die kleeflint aan die agterkant vas.

5. Meet, merk en saag 945 mm op die dennehout met die figuursaag.

6. Trek ’n middellyn in die lengte af op die plank en maak elke 135 mm ’n merk. Boor ses gate regdeur die plank met die plaatboorpunt.

7. Merk ses 100 mm-lengtes op die tappen. Maak die tappen in die bankskroef vas en saag op die merke wat jy gemaak het.

8. Skuur die plank en tappenne se rande glad.

9. Sit houtlym in die plank se gate en steek die tappenne in. Gebruik die klophamer om seker te maak elke tappen sit reg in sy gat.

10. Maak die spieëlhegplaatjies aan die agterkant van die plank vas en hang die plank teen die muur. Plak die naamborde bo die rak vas en skryf jou kinders se naam met kryt op.