Foto's Henk Hattingh

Marissa Pretorius van Opus Botanical Florist in die Waterfront en haar assistent Arthur Madzivanzira deel hul wenke en truuks.

Gereedskap

  • plant
  • potgrond
  • kompos
  • droë mos
  • skêr
  • tou
  • water en ’n spuitkan

"Dit kos tyd en geduld. Begin klein en geniet die proses. Amper enige plant sal werk, maar iets gehards en waterwys soos ‘n vetplant is ‘n goeie begin." – Marissa

So maak jy ...

1. Maak ’n 50/50-mengsel van kompos en potgrond; meng dit met water totdat dit soos klei lyk.

2. Haal die plant uit die plastiekhouer. Maak ’n gat in jou grondmengsel en sit die plant daarin.

3. Vorm nou die grond om die plantwortels om ’n balvorm te skep. Moenie die grond te styf vasdruk nie, want die wortels het ruimte nodig om te groei.

4. Knip ’n stuk tou af en draai dit om die bal om dit in posisie te hou; jou bal sal in dié stadium steeds ’n plat onderkant hê.

5. Skep ’n hoop oorskietgrond op jou werkblad en sit jou grondbal versigtig daarop neer. Vorm nou die onderkant van die bal met jou hande.

6. Lig die bal versigtig op en rond dit oraloor af.

7. Sodra jy gelukkig is met die vorm, sit die bal eenkant. Gebruik die spuitkan om die mos effens nat te maak. Versprei die mos om ’n reghoek te skep wat om die grondbal sal pas. Sit die bal op die mos en vou die reghoek daarom.

8. Maak die mos met ’n kruis-en-dwars-patroon aan die grondbal vas, net styf genoeg om dit in posisie te hou.

Plantlys

Tropiese plante soos Anthuriums, Philodendrons, katstert, orgideë, Begonias, halssnoerranker, Coleus en takbokvarings werk die beste. Echeverias en ander vetplante, kruie soos kruiproosmaryn en selfs aarbeie is ook goeie opsies.

Ander opsies sluit in:

  • Adiantum-spp.
  • Begonia ‘Rex’
  • Crassula ovata ‘Jade’
  • Sedum spurium ‘Tricolor’
  • Sedum lineare ‘Sea Urchin’
  • Asplenium nidus ‘Birds Nest Fern’
  • Echeveria runyonii ‘Topsy Turvy’
  • Aloe ‘Grassy Lassie’

So versorg jy jou kokedama

  • Hang jou kokedama só dat dit baie lig maar nie direkte sonlig sal kry nie en besproei die mos daagliks met water om dit vars en groen te hou.
  • Sowat een of twee keer per week, wanneer die grondbal lig voel, dompel jou kokedama in ’n houer vol water totdat daar nie meer borrels uitkom nie; dit sal ’n paar minute neem. Laat dit vyf minute lank iewers hang voordat jy dit op sy gewone plek terugsit.
  • Verwyder enige dooie of siek blare om die plant gesond te hou. As jy wortels kan sien, is dit tyd om die plant in ’n bedding of houer oor te plant.
  • Die meeste plante reageer goed op ’n snoei; as jy kan sien jou kokedama is oorgroei, snoei dit terug – dit sal ook nuwe lote stimuleer. Maar doen jou navorsing vooraf; party plante het ’n snoeiseisoen, terwyl ander glad nie gesnoei moet word nie.
  • Jy kan ook die mos snoei: As jy sien jou bal is te donserig of bruin, gebruik ’n skêr om die mos weer te vormsnoei. Jy behoort binne weke nuwe lote te sien as jou kokedama gesond is.

KONTAK Opus 072 7856 002, opusstudio.co.za