Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • spons (1360 x 450 x 75mm)
  • 2m watteersel
  • aanspuitgom
  • 2m stoffeerlap van jou keuse (ons het ’n tipe fluweellap gekies)
  • gare vir die bosteke in dieselfde kleur as die lap
  • 16 knope, oorgetrek met dieselfde stoffeerlap
  • wasbedekte stoffeertou

GEREEDSKAP

  • maatband
  • winkelhaak
  • materiaalpotlood
  • skêr
  • naaimasjien
  • naalde (een gewone naaldwerknaald en een van 15cm lank)
  • spelde
Projekgids
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 3/10 
  • Tyd nodig 5 uur 
  • Maak dit self vir ± R430: spons R145, watteersel R37, stoffeerlap R150, knope R25, gare R23, stoffeertou R50)

1. Knip stukke watteersel presies so groot soos al ses vlakke van die stuk spons. 

2. Plak die watteersel op al die spons-oppervlakke vas met die aanspuitgom. 

3. Knip die stoffeerlap in dié groottes:

  • twee panele van 1410 x 500mm (bo- en onderkant)
  • twee van 1410 x 125mm (lang sye)
  • twee van 500 x 125mm (kort sye) 

4. Stik die vier sypanele aan mekaar vas met die regte kante teen mekaar sodat dit ’n reghoek vorm.

5. Stik dan die bokant aan al vier sye van die reghoek wat jy in stap 3 gemaak het, vas – weer met die regte kante teen mekaar. Stik die onderkant aan een kort en twee lang sye (regte kante teen mekaar) vas; hou een kort sy oop. Dop die oortreksel om met die regte kant buite en sit die spons met die wattersel binne-in. 

6. Werk die laaste naat met die hand toe (gebruik ’n gewone dwarssteek). 

7. Rond die nate af met ’n bosteek (gewone rygsteek) 1cm van al die rande af. 

8. Merk die posisie van die knope op die bo- en die onderkant van die kussing. Begin 28cm van die bosteek af en merk met 27cm-intervalle oor die lengte van die kussing. Merk oor die breedte met 15 cm- intervalle. Merk die kruispunte eers met spelde en dan met gare.

9. Gebruik die wasbedekte tou en 15cm-naald om die knope vas te werk. Druk die naald en gare deur die spons by een van jou merke. Ryg ’n knoop aan die tou en druk die naald dan in die teenoorgestelde rigting deur die spons. Ryg nog ’n knoop aan die ander kant. Druk hard om die knope so na moontlik aan mekaar te kry en bind die tou stewig vas. Vra hulp: Terwyl een persoon die knope na mekaar druk, bind die ander een die tou vas. Herhaal by al agt merke.