Foto’s: Francois Oberholster

Wat jy nodig het

  • gietvorm (ons het ’n papierhouer gebruik)
  • tou van 25 cm dik 
  • nutsmes
  • Prestik
  • sement
  • sand
  • water
  • emmer om in te meng
  • handskoene
  • Woodoc Teël en Sement Verseëlaar
  • Woodoc Colours in Brights (Yellow) en Full Moon
  • mengbakke groot genoeg vir die deurstuiters om in te pas
  • vilt 
  • skêr
  • aanspuit-kleefmiddel

Só maak jy ...

Vou ’n stuk tou in die helfte en merk waar jy dit deur die gietvorm se bodem sal ryg om ’n handvatsel vir die stuiter te maak. Sny op daardie plek ’n gat uit met die nutsmes. Druk die tou deur die gat en verseël enige gapings om die opening met die Prestik. Laat die houer só op twee planke staan sodat die tou tussen die twee planke afhang.

Meng die sement: 1 deel sement met 3 dele sand. Meng met net genoeg water om dit te bind; dit moet amper soos koekiedeeg lyk. Maak die gietvorm sowat twee-derdes vol met die sementmengsel. Skud dit liggies om van enige lugborrels ontslae te raak. Laat dit 24–48 uur staan om hard te word.

Verwyder die gietvorm. 

Wag tot die sement heeltemal uitgedroog het, en gooi sowat 300 ml Woodoc Teël en Sement Verseëlaar in elk van die twee mengbakke. Gooi Woodoc Colours by en meng goed met die verseëlaar (ons het Brights (Yellow) in een houer en Full Moon in ’n ander gemeng).

Doop die deurstuiter in die mengsel en laat dit aan sy lus hang sodat enige oortollige verseëlaar kan afdrup. Laat dit droog word en herhaal die proses nog twee keer tot die kleur solied is.

Wag tot die finale laag heeltemal droog is en trek die basis se vorm op die vilt af. Knip dit uit en plak vas met die aanspuit-kleefmiddel.