Vinielteëls met Marokkaanse ontwerp van Hope vol Hoop

PROJEKGIDS
  • Harde werk 1/10
  • Vaardigheidsvlak 1/10
  • Tyd nodig 3 uur
  • Doen dit self vir ± R1 000 afhangend van die grootte van jou yskas (54 vinielteëls kos sowat R810)

Wat jy nodig het

INKOPIELYS

  • vinielteëls (die getal hang af van jou yskas se grootte; ons het 77 gebruik)

GEREEDSKAP

  • handwerkmessie
  • staalliniaal
  • snymat
  • vernierpasser
  • skêr
  • passer
  • potlood
  • maatband

So maak jy

Stap 1 en 2

1. Gebruik die vernierpasser en meet die deel van die handvatsel wat aan die yskas vassit.

2. Neem dan die maatband en meet die afstand van die handvatsel tot by die deur se binnerand en ook die afstand van die handvatsel tot by die bopunt van die deur.

Stap 3

3. Trek lyne op die agterkant van ’n teël met die mate wat jy in stap 2 geneem het. Gebruik dan die passer om ’n sirkel te trek volgens die mate wat jy in stap 1 geneem het. Trek ’n lyn van die middel van die sirkel na die rand wat langs die sy van die deur geplak gaan word. Knip op dié lyn en rondom die sirkel.

Stap 4 en 5

4. Posisioneer die teël wat jy in stap 3 geknip het rondom die handvatsel en plak vas. Herhaal stap 2 en 3 vir elke plek waar die handvatsel teen die yskas vas is.

5. Plak die res van die individuele teëls teen die yskas. Waar ’n teël verby die deur se rand steek, kan jy die oortollige deel met ’n handwerkmessie afsny.

Stap 6

6. Indien jou yskas ’n ysoutomaat het, plak eenvoudig die teëls bo-oor; gebruik dan die staalliniaal en handwerkmessie en sny die dele van die plakkers wat die outomaat bedek, versigtig weg.

Het jy geweet?
  • Die 15 x 15 cm-teëls is selfklewend; trek net die agterkant af en plak vas.
  • Die teëls kan maklik verwyder word as jy die voorkoms wil verander.
  • Daar is verskillende ontwerpe en patrone beskikbaar; probeer facebook.com/heidijdesign, robinsprong.com, superbalist.com en dewaalart.com vir nog opsies.
  • Gebruik dié teëls op watertenks, vullisdromme en spatpanele, asook in slaap- en badkamers.

Vinielteeëls met Marokkaanse ontwerp van Hope vol Hoop, 083 703 5512