Video Francois Oberholster

Wat jy nodig het

  • skinkbord
  • 4 mm- mariene laaghout
  • handwerkmes
  • figuursaag
  • G-klampe
  • skuurpapier
  • potlood
  • staalliniaal
  • reghoek
  • swartpen met ’n fyn punt
  • Woodoc Water-Borne Floor
  • Woodoc Colours: Clifton Grey en Opal
  • 2 x houers om in te meng
  • stokke om mee te meng
  • verfkwas
  • maskeerband

So maak jy ...

1. Meet die binnekant van die skinkbord en saag die laaghout met die figuursaag om knus binne-in te pas. Onthou om die hout aan jou werkoppervlak vas te maak met die G-klampe. Skuur die rande glad.

Wenk Maak ’n keep met die handwerkmes op die lyn wat jy op die laaghout getrek het; dit sal keer dat die hout splinter wanneer jy saag.

2. Trek ’n patroon in die Asteekse styl op die laaghout. Begin met ’n kruis in die middel van die laaghout. Trek van daar af lyne so breed soos die staalliniaal teen ’n hoek van 45° om elke kwart te vul. Nou kan jy met die potlood merk watter dele jy ontbloot wil los. Sodra jy tevrede is met jou patroon, kan jy die lyne oortrek met die pen. 

3. Plak al die areas wat ontbloot gaan bly, asook dié wat jy met die kleur Opal wil verf, met die maskeerband toe.

4. Gooi sowat 150 ml Woodoc Water-Borne Floor in albei houers. Meng ’n bietjie van die Woodoc Colours by elk in en meng goed.

5. Wanneer jy alles toegeplak het, verf die oorblywende oop areas met twee lae Clifton Grey; laat dit droog word tussen lae.

6. Wag tot jou tweede laag droog is en trek die maskeerband af van die dele wat jy met die Opal wil verf. Plak die rande van die dele wat met die Clifton Grey geverf is, toe en verf die ander dele met twee lae Opal; laat dit ook droog word tussen lae.

7. Haal al die maskeerband af en bedek die hele oppervlak met twee lae deursigtige Woodoc Water-Borne.

8. Sit die laaghout in die skinkbord en siedaar!