Wat jy nodig het

Inkopielys

• ou houtbankie of koffietafel se raam

• 50m seilband in twee kleure (ons het die seilband by CD Fox in Kaapstad gekoop)

• oorskietverf (ons het Annie Sloan in die kleur Scandinavian Pink gebruik)

• verseëlaar soos Sabre Paints Stoneseal (of gebruik was)

• as jy nie krytverf gebruik nie, beveel ons ’n waterbasis-emaljeverf aan; verf dan eers met ’n onderlaag (soos Dulux Supergrip)

GEREEDSKAP

• skuurpapier

• kwas

• skêr

• aansteker

• kramgeweer 

PROJEKGIDS

Harde werk 2/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig 1 dag (die verf se droogtyd ingesluit)

Doen dit self vir R400 (bankie gekoop op Gumtree R150; seilband R250

1 Dis nie nodig om die bankie te skuur as jy krytverf gebruik nie, tensy die raam ’n hoëglansafwerking het – dan moet jy liggies skuur. Indien jy ’n waterbasis-emaljeverf gebruik, skuur die houtraam liggies en maak seker dis skoon en stofvry.

2 Wend twee lae verf oraloor die raam aan; laat elke laag goed droog word.

3 Verseël die verf indien jy krytverf gebruik.

4 Bepaal hoe lank die seilbandstroke oor die lengte en breedte van die raam moet wees. Meet tot aan die binnekant van die raam en vou die punt dubbel sodat dit stewig kan sit. Knip dan genoeg stroke – ons het 23 oor die breedte en nege oor die lengte van die bankie gebruik (dit sal afhang van die grootte van jou bankie se raam).

5 Brand die punte van elke strook met die aansteker se vlam sodat die seil nie kan uitrafel nie.

6 Begin met die kort stroke. Vou elkeen se punt dubbel en kram dit aan die binnekant van een lang sy vas.

7 Trek die stroke styf oor die raam se breedte, vou die punte om en kram vas aan die ander sy se binnekant. Herhaal met al die stroke.

8 Maak die langer stroke aan die bankie se kort sy vas, nes jy met die korter stroke in stap 6 gemaak het. Weef dit oor en onderdeur die korter stroke, trek goed styf, vou die punte dubbel en kram vas.