Wys bietjie been

Hoe gaan ek te werk om my dennehouttafel se pote wit te verf?

Indien jy die pote ’n afgewitte voorkoms wil gee, sal jy die vernis heeltemal moet verwyder; maar as die vernis in ’n goeie toestand is en jy ’n soliede wit voorkoms verlang, hoef die pote net liggies geskuur te word met 220-grint-skuurpapier. Was dit dan met ’n suikerseepoplossing, wend ’n onderlaag soos Dulux Supergrip Primer aan en verf die pote met ’n akriel-PVA of aterbasisemaljeverf. Skuur liggies tussen verflae.

Verf om te hou

Hoe maak ek seker die verf gaan nie afdop wanneer ek ’n meubelstuk verf nie?

Sonica Bucksteg, kleurkenner van Dulux, antwoord: 

Oppervlakke moet altyd voorberei word om vatplek vir verflae te kan bied. As die meubelstuk baie detail het wat tydrowende skuurwerk vereis, kan jy dit met staalwol en ’n suikerseepoplossing skuur – die staalwol sal oral bykom.

As die bestaande vernis of verf nie krummel of afdop, of barsies het nie, kan jy bloot die oppervlakke liggies skuur met 220-grintskuurpapier (as dit ’n gladde oppervlak is), of met 180-grint-skuurpapier (as dit krapmerke het) en daarna met 220-grint skuurpapier.

Vee al die stof met ’n klam lap af en was die meubelstuk met ’n suikerseepoplossing; laat dit goed droog word. Wend dan ’n onderlaag soos Dulux Supergrip Primer aan, gevolg deur ’n akriel-PVA of emaljeverf; gebruik liefs produkte van dieselfde handelsmerk vir die hele projek. Wenke vir die beste resultate:

1. Hou omgewingstemperatuur in gedagte – in baie warm weer sal die verf nie vloei nie of te gou droog word.

2. Vogtigheid en humiditeit kan die kleefvermoë tussen verflae affekteer.

3. Gebruik ’n goeie kwas.

4. Verdun die eerste kleurlaag effens.

5. Laat elke laag goed droog word.

6. Skuur liggies met fyn skuurpapier tussen lae en vee al die stof deeglik af.

KONTAK: dulux.co.za

Voorheen blink oppervlakke moet oraloor dof wees, wat sal aandui dat dit grof genoeg is om die verf te laat kleef.

Só maak jy met epoksiverf

Ek wil graag die vloer van my stoep en garage met ’n growwe epoksiverf oordoen. Hoe gaan ek te werk?

Heinrich Ehlers van Sansbury Unparalleled Renovations antwoord:

Epoksiverf is ’n duursame deklaag wat jy op sement aanwend. Dis bestand teen olie en ander stowwe wat gewone verf glad nie kan hanteer nie. Dit maak ook maklik skoon en is te kry in ’n verskeidenheid kleure.

Maar nie alle sementvloere kan met epoksi bedek word nie en die voorbereiding kan groot werk wees. Soos altyd is voorbereiding van kardinale belang.

As die sement in ’n goeie toestand is, verwyder op dag een alle oliekolle, ets die vloer met ’n flou suurmengsel en skrop, stofsuig en spoel af tot silwerskoon.

Vul op dag twee enige krake en wend die eerste epoksilaag aan, gevolg deur ’n tweede laag op dag drie. Huur ’n krag-vloerskropper met ’n stywe borselstuk by Sale’s Hire (saleshire.co.za).

Borsels werk beter as skuurblokkies op sement, maar koop twee blokkies indien ’n borsel nie beskikbaar is nie. Huur ook ’n natstofsuier as jy nie een het nie.

Voor jy epoksiverf vir jou vloer oorweeg, moet jy seker maak daar kom geen klammigheid deur die sement nie. Toets dit so Plak ’n stuk plastiek (sowat 1 x 1 m) met Duct Tape of verpakkingskleefband op die sementvloer en laat staan oornag.

As daar die volgende oggend druppels onderaan die plastiek is, is die sement nog klam, wat beteken jou vloer is nie geskik vir dié behandeling nie; ook nie as dit voorheen verseël was nie, want dan sal water altyd druppels op die oppervlak vorm.

In geval van ’n nuwe sementvloer moet jy minstens 28 dae (verkieslik twee maande) wag dat die vloer heeltemal uitdroog voor jy ’n deklaag aanwend.

En as jou vloer voorheen geverf was, moet jy liefs die verf stroop, veral wanneer jy ’n epoksiverf met ’n oplosmiddel-basis gebruik. Maak ook seker die weer speel saam. Die sement se temperatuur moet minstens 12 °C wees en die lugtemperatuur 20–30 °C, dat die epoksi perfek kan droog word.

Stroop verf veilig

Verf op hout-elemente kan met veiligheid verwyder word, selfs al het dit ’n loodbasis. Tog is dit raadsaam om jou huis vir 24 uur te ontruim.

Ons woon in ’n ou plaashuis en die deurkosyne en houtplafonne het nog van die oorspronklike verf aan. Ek wil dit laat stroop, maar ek het gehoor die grondverf in ou huise kan lood bevat. Geld dit ook vir die verf op die houtwerk? Hoe laat ek dit veilig stroop? My seun is twee en ek is swanger – ek wil nie ’n kans vat nie!

Gladman Maphuma, ’n spesialis in die boubedryf, antwoord:

Die verf kan wel veilig gestroop word, maar omdat jy swanger is en ’n jong kind het, sal dit wys wees om die huis tydens die proses vir minstens 24 uur te ontruim sodat julle nie aan skadelike dampe blootgestel word nie. Die verf kan met ’n verfstroper of hittepistool verwyder word. In laasgenoemde geval moet die werk deur ’n kenner gedoen word, anders kan die hout brand.

As jy ’n stroper gebruik, stel ons voor jy kies ’n nie-giftige middel met ’n waterbasis. Indien die houtwerk afdop, moet dit eers afgeskraap word en dan met ’n reiniger soos suikerseep skoongemaak word voor jy die nuwe onderlaag aanwend. Gebruik sover moontlik produkte met ’n waterbasis omdat terpentyn en verdunner potensieel skadelike dampe sal afgee.

Watter metode jy ook al kies, sorg dat die persoon wat die werk doen altyd ’n masker dra om hulle teen dampe en stof te beskerm. Hou ook ’n stofsuier byderhand as jy gaan skuur, en maak seker die area is goed geventileer.

KONTAK: 0860 995 250

Witwarm kaggel

Ek wil graag ons baksteenkaggel wit verf. Watter verf is bestand teen hoë hitte?

Lisa Spaarwater van Lemon & Lilac antwoord:

Skrop eers die kaggel met suikerseep en laat dit droog word. Gebruik dan ’n hittebestande verf soos Duram NS7 Heat Resistant Paint en verf die binnekant van die kaggel daarmee, of los eenvoudig die binnekant ongeverf.

Volg dan een van dié twee metodes:
1. Verf die bakstene aan die buitekant met ’n waterbasis-onderlaag soos Dulux Supergrip en laat dit droog word. Wend dan ’n wit wasbare waterbasisverf soos Dulux Pearlglo bo-oor aan; twee lae sal nodig wees.

2. Verf die bakstene aan die buitekant met twee lae Annie Sloan-verf in die kleur Pure (geen onderlaag is nodig nie). Seël die verf daarna met ’n waterbasis-vernis soos Harlequin Waterbased Varnish.

KONTAK: lemonlilac.co.za