Deur: Annelize Steyn, Beatrice Moore-Nöthnagel, Misi Overturf, Marian van Wyk, Henrique Wilding | Foto’s: Elza Cooper, Francois Oberholster, Sally Chance, Antonie Robertson, Margaux Tait, Lar Ratray, Justin Patrick, Retha Erichsen, Henrique Wilding, Greg Cox | Stiliste: Kim Bougaardt, Marian van Wyk, Margaux Tait, Retha Erichsen, Shelly Bergh, Lecia de Waal

1. WARM OF KOUD?

As ’n grys skakering nie heeltemal reg lyk in ’n ruimte nie, is dit dikwels omdat die verf se onderliggende kleurtone nie daar pas nie – dit gebeur wanneer die betrokke grys se ondertoon, hetsy warm of koud, bots met dié van ander elemente in die vertrek.

Skep harmonie deur seker te maak die meubels en bykomstighede in jou huis pas by die ondertoon van die grys op die mure. Peet en Elria Steinberg het Dulux Dusted Moss 1 en 2 gebruik in die leefarea van hul plaashuis in Mpumalanga, en die warm ondertone skakel perfek in by die bestaande elemente van natuurlike hout en klip.

Kennersraad

Warm skakerings het ’n bruin, geel, oranje, pienk of rooi ondertoon. Die Dulux-kleurspesialis Sonica Bucksteg stel die volgende skakerings voor: 

2. SKEP 'N FOKUSPUNT

Die teenoorgestelde van die raad by #1 geld weer wanneer jy grys op ’n fokusmuur wil gebruik:

Om werklik die oog te tref, moet jy ’n grys kies met ’n teenoorgestelde ondertoon as jou aksentkleure. In dié eetkamer is ’n fokusmuur in die warm Dulux Night Jewels 4 gekombineer met wit, mauve en ’n sagte blou. Dié skakerings werk gewoonlik beter saam met ’n koel grys, maar dis die onderliggende kontras wat die fokusmuur laat uitstaan!

Kleurkunsies
As ’n koel grys jou ruimte ongesellig laat voel, sal bykomstighede in swart, roomwit of kameelbruin dit warmte gee.

3. BESLUIT OP 'N SKAKERING

Donkerder skakerings word gewoonlik vir kontemporêre ruimtes gebruik, terwyl ligter skakerings beter werk in vertrekke met ’n meer klassieke styl. Maar namate grys al hoe gewilder word, buig mense die reëls ’n bietjie – met fantastiese resultate!

Donker en dramaties

Helder bykomstighede staan altyd pragtig uit teen ’n donkergrys agtergrond. Kyk net na dié fokusmuur in Deon en Debbie de Goede se huis in Brackenfell. Dis treffend, en ondanks die ou storie dat donker kleure ’n ruimte kleiner laat voel, kan donkergrys die teenoorgestelde uitwerking hê deur ’n klein vertrek se hoeke te laat “wegraak”. Omdat dit nie die oog trek nie, is grys ook die perfekte agtergrond vir uitstalgoed.

Blink plan!

Heldergeel word die gereeldste saam met dongergrys gebruik, maar helderpienk, lemmetjiegroen, bosbessierooi en roesoranje is ewe treffend.

Lig en lugtig

Toe Brad en Cat van der Vyver die studeerkamer in hul huis in Ballito, KZN, opgeknap het, wou hulle die vervelige beige mure bedek met ’n kleur wat dit sonder twyfel nuwe lewe sou gee. “Ons het geweet grys is die regte kleur – dis vars, skoon en kontemporêr,” sê Cat. Hulle het besluit op ’n koel silwergrys, Dulux Silver Trophy; saam met wit bykomstighede en groenigheid skep dit ’n vreedsame atmosfeer in dié ligte, moderne ruimte.

Alles in een

Elkeen se “perfekte” grys is uniek; dit hang alles af van die eienskappe van jou bepaalde ruimte. Die kleure van aangrensende mure, die vloer, meubels en ander aksente het almal ’n uitwerking op hoe kleur daar gaan werk. Maar die beligting speel die grootste rol.

Toe Doreen en Meyer de Waal by dié oorspronklike Sir Herbert Baker-huis in Kaapstad ingetrek het, was die mure wit. Hulle wou so gou moontlik hul eie stempel op hul ruim nuwe huis afdruk, en het heelwat grys gekies.

In die hoofslaapkamer stroom die natuurlike lig by ’n groot skuifraamvenster in. Doreen sê sy geniet hoe die grys muur verskillende skakerings aanneem namate die son beweeg. Omdat lig so ’n groot invloed het op hoe ’n kleur vertoon, is dit belangrik dat jy op verskillende tye van die dag – vandat die son sy eerste strale wys tot saans by kunsmatige lig – kyk hoe die kleur teen jou muur lyk sodat jy doodseker is jy is tevrede. ’n Warm grys kan byvoorbeeld met sonsopkoms en -ondergang meer bruin as grys lyk. As jou vertrek heelwat natuurlike lig kry, kan jy ’n knus atmosfeer skep met ’n warm skakering; ’n koel grys sal weer ’n ruimte wat baie warm lig kry, neutraler maak. Om grys skaduwees saans te vermy, gebruik beligting in lae saam met gewone oorhoofse ligte.

4. ROWWE KALANT

As ’n gewone grys muur vir jou te vervelig is, kan jy ’n tekstuurverf soos Earthcote of Fired Earth gebruik en met ’n verftegniek eksperimenteer. Of probeer witkalk met ’n grys tint vir ’n interessante voorkoms en gevoel.

Twee-twee

Diepte en tekstuur keer dat ’n grys muur eentonig lyk. Ons hou van dié tweekleur-muur in German de la Melena se woonstel in Groenpunt;dit gee die ruimte hoogte en diepte, en maak dit interessant. ’n Spieël wat die klipmuur regs weerkaats, bring nog tekstuur in.

Dit het die vermoë om by amper enige kleur aan te pas; dis die perfekte agtergrond, wat nie sommer oudmodies sal lyk nie. Dit lyk of grys hier is om te bly. – Dulux-kleurspesialis Sonica Bucksteg

Op eie bodem

Dis glad nie nodig om jou kreatiwiteit tot mure te beperk nie. Jy kan patrone met ’n stensil op ’n grys sementvloer aanbring en dit verseël.

Dié sementvloer onder is voorberei met Dulux Raw Surface Primer en toe geverf met Dulux Floor Enamel in die kleur Dark Sea Grey. Vloerteëls (in areas met lae voetverkeer) kan ook geverf word; dié vloer (onder) is geverf met Fired Earth se Ultra Pave in die kleur Dynamo.

Kennersraad:

Kies só ’n grys wat vir jou werk, sê Dulux se handelsmerkbestuurder, Nonkululeko Mcunu:

1. Kry inspirasie in tydskrifte of aanlyn vir ’n idee van die skakering waarvan jy hou. Stel jou voor hoe dit in jou eie ruimte sal lyk saam met die vloer, meubels, blindings of gordyne en bykomstighede. Jy kan ook die Dulux Visualizer-app by Google Play of die App Store aflaai; jy neem ’n foto van jou vertrek en kry ’n voorstelling van hoe verskillende kleure teen jou muur sal lyk.

2. Besoek jou verfwinkel en kyk na die kleurkaarte. Elke Dulux-kleurkaart het ses skakerings wat wissel van lig tot donker. Kies ’n paar kaarte waarvan jy hou en vat dit huis toe om te sien hoe dit by jou ruimte inpas. Besluit op ’n kortlys van minstens drie kleure.

3. Kry toetspotjies van dié kleure en verf ’n blok van 1 x 1 m op die muur of ’n stuk harde karton as jy dit in ander vertrekke ook wil toets. Maak seker jy neem ook jou bykomstighede en toebehore in ag, en hou in gedagte dat ’n kleur sterker sal vertoon op ’n hele muur as net op een deel. As jy enige probleme in dié verband voorsien, is dit beter om ’n skakering of twee ligter te kies.

4. Laat die verf heeltemal droog word – wag minstens 24 uur voor jy kyk hoe dit op verskillende tye van die dag lyk. Onthou om in natuurlike én kunsmatige lig te kyk of jy die perfekte skakering gekies het.

Wenk

Wanneer jy ’n muur wil verf wat voorheen met ’n waterbasisverf bedek is, moet jy dit reg voorberei. Maak seker die oppervlakke is gelyk, skoon en vry van stof, vullis of vetterigheid. Vul enige krake of gate met die toepaslike vuller. Wend Dulux Plaster Primer aan nadat die muur voorberei is – dit sal verseker die kleurlae het ’n gladde afwerking.


’n Leser, Wilna Hugo van Worcester, het ’n verskeidenheid skakerings in haar leefarea ingespan, insluitend die sementvloere wat met WeatherPrufe Coatings Polyurethane Enamel in die kleur Smoke geverf is.

5. FOKUS!

As jy nie graag ’n hele vertrek wil verf nie, kan jy eksperimenteer met ’n fokusmuur. Die stilis en fotograaf Margaux Tait van mylifestyled.co.za het Hermanus Mist van Evolve (beskikbaar by Builders) gebruik om ’n agtergrond te skep vir dié elegante galerymuur. Die swart, wit en hout werk goed saam in die stylvolle ruimte.

Dis dieper as wit; ek dink aan grys as wit met sokkies aan.
Margaux Tait

6. BESTE VOETJIE VOOR

Wanneer jy op ’n grys besluit, maak seker joune bly klassiek en kies ’n skakering met ’n ondertoon wat jou huis se natuurlike omgewing – dikwels ook groen en bruin – komplementeer.

In die geval van Peta en Ian Levin se kothuis op Greyton is die mure geverf met Midas Lattice Grey en die hortjies met Midas Keystone Grey, wat albei perfek inpas by die geil groenigheid rondom die huis. Die blokkiespatroon op die stoepvloer skep onverwagte, treffende kontras. As jy ’n donkerder grys vir die buitekant van jou huis verkies, breek dit met ’n ligter grys of wit sodat dit nie so eentonig lyk wanneer die huis as ’n geheel beskou word nie. Gebruik helder kleure vir detail wat jy wil beklemtoon, soos jou voordeur, en dieselfde grys vir detail wat jy wil verbloem.

Ons is dol oor die donkergrys wat Craig Olckers op die grensmuur van sy huis in Groenpunt gebruik het. Dit maak dat die klein ruimte groter voel, laat die kleurvolle bykomstighede pragtig uitstaan en verbloem enige onooglike merke wat jy op die meeste buitemure sou teëkom.