ANNIE VERTEL
 “Soms kom ek af op ou, afgeleefde meubels, veral laaikaste, met lae en lae verf; dikwels is die nuutste laag ’n moderne, helder kleur. Dit lyk amper asof iemand die verf wou afskraap en toe halfpad deur tou opgegooi het, want al die verskillende kleure is sigbaar. Ek hou baie van dié ‘toevallige’ lae, merkies hier en daar, en titsels kleur wat deurslaan. “Dit verskil heelwat van die subtiele, verweerde voorkoms van ou meubels wat in rustiger kleure geverf is. Die helder kleure gee dit meer oemf en trefkrag. Ek hou veral daarvan as taamlik sterk kleure gebruik is; dalk het dit iets te doen met my liefde vir moderne abstrakte skilderkuns.

“Dié ou laaikas met sy mahonie-fineerlaag was in ’n treurige toestand en vir die ashoop bestem omdat groot dele van die fineer besig was om af te dop, te kraak en op te lig. Dit het kapplekke en sigaretbrandmerke gehad, en van die randversierings het afgeval. Die kas moes op sy dag ’n pragtige meubelstuk gewees het, en nadat ek die fineerlaag plek-plek gelig en weggesny het en ’n bietjie houtvuller aangewend het, was dit gereed vir ’n laag verf of twee. Ek het dié metode ontwikkel deur met die verf te eksperimenteer en ’n kombinasie van tegnieke te gebruik, insluitend kwaswerk, bleikmiddel om die verf te verdun, skraapwerk en was vir ’n wonderlik rustieke patina in die pakhuis-styl.”

WAT JY NODIG HET

• verf in Paris Grey, English Yellow, and Provence (opsioneel)

groot ovaal kwas met natuurlike hare

• dik huishoudelike bleikmiddel

• skoon, droë lappies

• latekshandskoene

• mengstok

• skraper

Clear wax

kwas vir die was

Dark wax

Black wax

White wax

So maak jy ...

 Haal die verfblik se deksel die aand voor die tyd af sodat die verf lekker kan verdik. Gebruik die ovaal kwas en wend Paris Grey in dik, oneweredige lae oor die hele meubelstuk aan. Dit sal ’n ruk neem om droog te word.

Wag tot die verf droog is en drup die bleikmiddel plek-plek daarop. Jy kan ook ’n skoon lap gebruik om die bleikmiddel aan te wend. Wees versigtig; dit kan jou vel en klere beskadig – sorg dat jy latekshandskoene dra.

Gebruik ’n lappie om van die bleikmiddel te absorbeer. Dit sal ook van die oortollige verf verwyder.

Hoe langer jy die bleikmiddel aanlos, hoe meer verf verwyder dit (dit sal wel mettertyd uitdroog en as jy dit dan probeer afskraap, sal dit ’n ander soort merk los).

Skraap die oppervlak liggies met die punt van ’n mengstok – hou dit teen 45 grade vas – en werk só dat die hout plek-plek wys. Maak verskillende merke deur harder en sagter met die stok te druk.

Wend die English Yellow met die ovaal kwas aan, maar moenie die hele oppervlak bedek nie. Die verf behoort dik te wees, maar werk liggies sodat dit net op die oppervlak sit. In dié stadium het ek hier en daar, soos aan die onderste deel en die randversierings, ook ’n titsel Provence aangewend.

Terwyl die verf nog besig is om droog te word, gebruik die rand van die mengstok om van die English Yellow af te krap; druk hier en daar lekker hard. Hoe harder jy druk, hoe meer verf krap jy af. Smeer dié dik verf dan aan dele wat met Paris Grey bedek is. Dis amper soos om met ’n paletmes te werk.

Gebruik die skraper om nog meer van die lae te ontbloot. Dis veral nuttig wanneer die verf al droog is, maar nog nie hard nie. 

AFRONDING Wend oraloor Clear Wax aan en vee oortollige was met ’n lap af. Ek het toe plek- plek Dark Wax en Black Wax aangewend, met White Wax oraloor om die effek van die donkerder was te versag.