WAT JY NODIG HET

INKOPIELYS

  • basisverf in die kleur van jou keuse
  • universele onderlaag, soos Dulux Supergrip
  • waterbasis-verguldgom (“gilder’s size”)
  • bladsilwer (ons het twee boekies gebruik, beskikbaar by handwerkwinkels)
  • silwer- of aluminium-metaalpoeier
  • waterbasis-vernis soos Dulux Woodgard Timbavarnish

GEREEDSKAP

  • sponsrollers, verfkwaste, verfbakke en drupvelle (vir die verf en vernis se aanwend)
  • plat, sagte kwas (vir die gom)
  • sponskwas (om die bladsilwer aan te wend)
  • breë, sagte kwas met natuurlike hare (om die bladsilwer mee glad te stryk)
  • klein, sagte kwas (vir die metaalpoeier)
  • skuurpapier

So maak jy ...

1. Skuur die kassie liggies en vee al die stof af met ’n klam lap. Verf die kassie met ’n universele onderlaag en laat dit oornag droog word. Verf dit dan in die basiskleur van jou keuse. Laat dit heeltemal droog word voor jy met die bladsilwerwerk begin.

2. Maak die kassie op ’n drupvel staan in ’n plek sonder trekke. Neem die sagte, plat kwas en verf genoeg verguldgom oor die kassie se blad om sowat 4 silwer-blaadjies te plak. Wend die gom dun en egalig aan en maak diehale almal in een rigting. (Omdat die bladsilwer baie fyn is, sal enige merk of streep wys.) Laat staan vir 20 minute of tot die gom taai en deursigtig is. 

3. Maak die pakkie bladsilwer oop. Neem nou jou sponskwas en plak ’n silwerblaadjie versigtig op die hoek van die kassie se blad. Laat die res van die blaadjie op die blad val en moenie dit probeer oplig as dit eers aan die gom geraak het nie, want dit sal skeur. Moet dit ook nie laat kreukel nie.

4. Vee met die kwas met natuurlike hare oor die bladsilwer om dit glad te stryk; oppas dat daar nie kwashare op die gom beland nie. Laat die velle met sowat 5 mm oorvleuel en vee oor elke vel om ’n netjiese resultaat te verseker; ook daar waar die velle oorvleuel. Herhaal die proses tot die hele blad bedek is. 

5 Vir die pote en ander moeilike dele, werk aan een klein area op ’n slag. Moenie dat die gom in hoekies of gaatjies ophoop nie; wend dit so egalig moontlik aan. Laat staan vir 20 minute of tot die gom taai is.

6 Knip stukkies bladsilwer kleiner uit sodat dit makliker is om te hanteer. Vee die bladsilwer glad met die sagte kwas. Herhaal die proses tot die hele poot bedek is; laat die velletjies oorvleuel soos op die blad. Vee oor die los stukkies met die kwas. As daar enige kolletjies sonder bladsilwer is, vryf klein, los stukkies daaroor. Gebruik die gom om groter, oop areas met bladsilwer te bedek. 

7 Gebruik die sponskwas om die bladsilwer in die hoekies glad te stryk. Vat die kwas aan sy voorkant vas vir beter beheer. Gaan weer met die sagte kwas oor elke millimeter om seker te maak alles sit behoorlik vas.

8 Gebruik die klein, sagte kwas om die oorblywende oop dele met metaalpoeier te bedek. Verseël die kassie met ’n waterbasisvernis wat geskik is vir bladsilwer. Wend twee tot drie lae aan; maak seker elke laag is goed droog voor jy die volgende een aanwend. 

Goeie idee

‘n Swart basis gee die bladsilwer ’n aantreklike diep kleur. Onthou, jy sal die basiskleur sien wanneer die bladsilwer afdop, wat ’n pragtige effek sal skep. As jy ’n meer soliede afwerking verkies, maak silwer jou basiskleur. Kies ’n emalje- of PVA-verf as basislaag, afhangend van die meubelstuk se bestaande afwerking.