Projek 1: Afgewitte muur

Wat jy nodig het

  • 500 ml Cement Grey
  • 500 ml Don’s Wash
  • 500 ml Cloud White
  • 50 mm-verfkwas

Só maak jy ...

1. Begin met die donkerste kleur en werk met ’n taamlik droë kwas. Doop jou kwas in die Cement Grey, verwyder die meeste van die verf op die rand van die verfpot en ook op ’n droë oppervlak soos ’n ou koerant. Vee dan net ligweg met die kwas oor die oppervlak van die stene; jy bedek dus nie die hele oppervlak met die verf nie, sodat net ’n subtiele kleurverandering plaasvind.

2. Herhaal stap 1 – eers met Don’s Wash en laastens met Cloud White.

Projek 2: Stensil met kolletjies

Wat jy nodig het

  • 15 x 15 cm-houtblokke
  • HB-potlood
  • stensil (ons het MC016-15-H gebruik, beskikbaar by Tjhoko-verskaffers)
  • Tjhoko-krytverf in die kleur van jou keuse (ons het 250 ml Sherif’s Stone en 250 ml Stéffan gebruik)
  • skerppunt-kunstenaarskwaste van goeie gehalte (ons het Prime Art 365R8 gebruik)
  • tandestokkie
  • alkantplakband

Só maak jy ...

1. Plaas die stensil op ’n houtblokkie en trek die patroon op die oppervlak af met die HB-potlood.

2. Doop die kunstenaarskwas in die eerste verfkleur (ons het met Sherif’s Stone begin). Maak seker daar is heelwat verf op die punt van die kwas en druk druppels al met die lyne van jou potloodontwerp langs. Gee jou kreatiwiteit vrye teuels en wissel gerus die kleure wat jy gekies het af. Sorg dat die kolletjies dik op die oppervlak lê en herhaal die stap indien jy meer dimensie in die kolletjies verlang.

3. Neem dan die tandestokkie, druk die punt in ’n kontrasterende kleur verf (maak seker dit is goed nat) en druk dan fyner kolletjies langs óf op die vorige reeds droë kolle.

4. Wag tot die verf droog is en plak die blokke met alkantplakband teen die afgewitte muur.

Projeknotas
  • Daar is verskeie metodes om ’n oppervlak af te wit; die droëkwastegniek werk veral goed op ’n gladde baksteenmuur.
  • Jy kan verskillende voorkomste skep met dieselfde stensil, maar verskillende Tjhoko-kleure. Kies byvoorbeeld helder kleure vir ’n Marokkaanse geur pleks van die Skandinawiese blokke wat ons gemaak het.
Tjhoko-meesterklasse

Tuis en Tjhoko Paint bied vanjaar weer Tjhoko-meesterklasse aan waar jy heelparty tegnieke met krytverf kan leer. Sessies kos R650 per persoon – dit sluit al die nodige materiale, verversings en ’n geskenksak in. Die beste van als? Jy vat jou skepping saam huis toe!

WAAR EN WANNEER?

  • Windhoek Saterdag 10 Augustus
  • Kroonstad Saterdag 28 September
  • Bloemfontein Saterdag 19 Oktober

BESPREEK SÓ

Stuur e-pos na donve.myburgh@media24.com; besprekings en finale reëlings sal bevestig word wanneer bewys van betaling ontvang is. Bel Donvé by 021 406 2387 vir besonderhede.