Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Michelle-Lize en Theo van Wyk met hul kinders, Theodore (15), Alexander (13) en Sophia (11)
WAAR Stellenbosch

Dis nie net die mure wat met blomme oortrek is nie; dit strek van die sementvloer oor kasdeure tot op die plafon, en skep sodoende organiese vloei tussen die vertrekke. “Hoewel ek probeer het om meestal sekere kleure in sekere vertrekke te gebruik, het ek nie so streng daarby gehou nie. Ek moes die huis beskou as ’n tuin pleks van ’n kunswerk,” sê Michelle-Lize.

My werkdag eindig nooit. Maar ’n mens kan dit skaars werk noem. Dis te veel pret! – Michelle-Lize

Die Van Wyk-gesin se huis in Stellenbosch is sowaar iets om te aanskou. Dit dateer uit die 1960’s en was ’n doodgewone gesinshuis – totdat Michelle-Lize dit onder hande geneem het.

Nou loop dit oor van die kuns; en nie die soort wat jy ophang nie – die mure speel self skilderdoek! “Dis hoe ek my kreatief uitleef,” sê die ma van drie oor die projek wat sy in 2016 aangepak het. Vir haar is dit nie net ’n kreatiewe uitlaatklep nie, maar ook ’n uitdrukking van haar geloof: “Dit voel ek loof die Here wanneer ek verf.”

Michelle-Lize het van kleintyd af belanggestel in kuns, maar het op die ou end fisiologie en biochemie gaan studeer. Dit was terwyl sy by ’n apteek gewerk het dat sy kunsklas begin loop het – al formele opleiding wat sy het. In 2008 het sy toe besluit om voltyds te skilder. “Dis hoe ek onsekerhede en seer in my eie lewe verwerk het, en myself uitgedruk het,” sê sy.

Deesdae word haar werk uitgestal by Banhoek Lodge net buite Stellenbosch, en dis ook aanlyn beskikbaar by michelle-lize.co.za. Maar Michelle-Lize se grootste vreugde is om die mure van haar eie huis te verfraai. “Ek glo ons word met talente geseën sodat ons die mense rondom ons daarmee kan dien,” sê sy.

’n Liefdestaak

Michelle-Lize en haar man, Theo, woon al tien jaar in die huis, maar die mooimaak het in Augustus 2016 begin nadat die huis se “sampioenkleur” mure swart geverf is.

’n Maand later het Michelle-Lize vriende en plaaslike kunstenaars uitgenooi om op Woensdag- en Vrydagoggende by haar aan te sluit vir ’n samewerkingsprojek om die swart mure te omskep in ’n helder “tuin” oortrek met blomme. Nou pryk daar groot blomme van die vloer tot die plafon; daar’s rooi papawers in die sitkamer, proteas en rose in die kombuis, turksvye in die voorportaal en die vrugte en blomme van ’n pruimboom langs die trap in die leefarea. Maar die skildery is nog nie klaar nie.

“Die tuin wat in ons huis ‘groei’, is fassinerend,” sê Theo, ’n aktuaris. “Dis heeltemal uniek en dit verander voortdurend. Dis ’n oase in vandag se besige wêreld.” Michelle-Lize beplan om volgende die hoofslaapkamer te verf. “Ek sien uit na die punt wanneer daar volkome harmonie tussen al die elemente van kleur, grootte en patroon is,” verduidelik sy. “Daar is geen formele beplanning betrokke nie; alles gebeur organies. Dis heerlik om in ’n kunswerk te woon!”

Wenke vir die ontluikende skilder

  • “Moenie bang wees om te eksperimenteer nie,” sê Michelle-Lize. “Soms werk dit, ander kere nie. Moenie te streng wees met jouself nie!”
  • Gewone PVA-verf is maklik om op mure te gebruik en word gou droog.
  • Begin met ’n kleiner muur terwyl jy nog besluit waarvan jy hou.
  • Verf vloere snags, dan is dit nie so ’n groot ongerief nie.
  • Gebruik ’n kleur, tema of spesifieke voorwerp (soos ’n blom) om vertrekke af te baken of aaneen te laat vloei.

Die trap is wit gehou in kontras met die kleurvolle blomme. Michelle-Lize gebruik gewone PVA om haar treffende ontwerpe te skep. Die twee stoele voor die trap het sy by haar grootouers geërf en dit laat stoffeer met lap van Supreme Upholstery.

VERSKAFFERS