Foto's Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk 

Wie woon hier? Jan (beter bekend as Elvis Blue) en Chireze Hoogendyk en hul dogters, Lila (7) en Jua (3)
WAAR George, Wes-Kaap

In die kombuis wou die Hoogendyks ’n industriële dog aardse gevoel skep met ruwe bakstene, grys sementvloere en natuurlike hout. Danksy die fotorame, beeldjies en blikke is daar meer as genoeg spatsels kleur.

Ná drie jaar in ’n huurhuis waar die mure, vloere en meubels alles dieselfde kleur was, was Chireze Hoogendyk kláár met vaal en saai. Daarom, toe hulle twee jaar terug laat bou, was sy en haar sanger-man, Jan (beter bekend as Elvis Blue), dit eens: hul nuwe huis hier op ’n gholflandgoed op George moes alles behalwe eentonig wees. “Ons is albei lief vir helder kleure,” sê Chireze.

“Elvis se gunsteling-kleur is rooi en myne is koningsblou, geel en ook rooi – maar op die oomblik is geel bo-aan my lysie,” vertel sy vrolik. Daarom het hulle nie teruggehou toe hulle ná die bouwerk kon begin mooimaak aan hul blyplek nie. “Ons het op grys as basiskleur vir die hele huis besluit omdat dit neutraal genoeg is dat jy lekker kan speel met kleur daarby,” verduidelik Chireze. Die Hoogendyks het in 2015 Johannesburg vaarwel toegeroep en George toe getrek.

“Dis so mooi en stil en veilig hier, en ’n mens beleef iets van die natuur,” beskryf Chireze hul “eerste eie plek” hier langs die vyftiende putjie van die Kingswood-gholflandgoed, waar hulle in Februarie verlede jaar kon intrek. “Ek kon nie wag om die huis te begin mooimaak nie. My goeie vriendin Janine Borcher is ’n interieurontwerper; sy het my baie gehelp om die palet bymekaar te sit, en ek kon net inklee soos ek aangaan. “Ek wou graag wys ’n mens kan kreatief wees met min geld,” vertel Chireze. “Die aardse elemente is vir my baie mooier as enige -bling, en soveel geselliger.

’n Vakman het die hangbank spesiaal vir Elvis gemaak. Dis ’n gewone stapelbed waarvan hy een reling afgehaal het en dit hang aan stewige toue uit die dak.

Dié patroon op die sementtee¨ls by die voordeur kom van Pinterest af. Chireze het ’n stensil daarvan laat lasersny, die tee¨ls ’n basislaag grys dakverf (Dulux Roofguard) gegee en die patroon met wit plaveiselfverf aangebring. 

Konsert in die leefkamer

Groot konsertinadeure lei na ’n stil hoekie in die tuin waar ’n ou rottangstel in ’n helder koningsblou baadjie spog. Chireze het dit met Napoleonic Blue van Annie Sloan geverf. "Oor blou voel ek baie soos ek oor geel voel: Dis ’n kleur wat uitstaan en as jy daarna kyk, voel jy sommer goed. Boonop komplementeer geel en blou mekaar," verduidelik sy.

’n Mens verwag dat ’n musikant ’n klavier in sy huis moet hê en Elvis het syne in die leefkamer staangemaak. “Dis sy spasie dié,” vertel Chireze. “Hier skryf hy en maak hy musiek. Ons dogtertjies is mal oor dié plek waar hulle kan konsert hou terwyl pappa musiek maak.”

Geel is ’n sterk aksentkleur in die ruimte en is op ’n speelse manier ingebring met ’n hoëglansverf (Dulux se Gloss Enamel-reeks). Die koffietafel is gemaak uit ’n outydse kis wat Chireze al van haar kinderdae af saampiekel.

“Toe ons hier intrek, het ek besluit om vir hom geel pote (Dulux Sun Dust 1) aan te sit en nuwe nut te gee,” verduidelik sy. Die geel bal-en-kloustoel (Dulux Tarragon Glory 4) is ’n erfstuk van Elvis se ouma en was in hul vorige huis rooi. “Mense dink dikwels geel is te veel van ’n waagstuk, maar wanneer ons vriende nou die geel sien, is hulle mal daaroor,” sê Chireze.

Ek is mal oor die gevoel van geluk wat geel skep. – Chireze

Droom-slaapkamers

In Elvis en Chireze se kamer vrolik ’n bont oorgooideken die grys mure op, terwyl die bed van palethout die aardsheid inbring waarvoor hulle so lief is. 

Chireze vertel gou dat die slaapkamers eintlik nog nie klaar is nie. “Ek wil nog baie meer bykomstighede inbring,” sê sy. In die twee kinderkamers het sy geometriese patrone teen die fokusmuur geverf vir ’n moderne gevoel.

“Ek wou nie ’n soliede pienk of pers muur hê nie; daarom het ek ’n pers driehoek vir Jua se kamer gekies en ’n pienke vir Lila s’n,” vertel sy. Die spieëlkas in Lila se kamer het ook onder haar hande deurgeloop – pienk is as onderlaag gebruik met turkoois hier en daar; dis plek-plek afgeskuur vir ’n verweerde voorkoms.

Lila se naam is met houtletters uitgespel in die´ oulike huisie teen die muur in haar kamer. 

Die stort en en suite-badkamer se mure is bedek met Coprox in die kleur Charcoal, wat ’n pragtige tekstuurafwerking het.

Die twee konsertinadeure, wat op ’n klein binnehof oopmaak, gee die gevoel van ’n buitelug-bad en -stort. Die vloer is soos in die res van die huis van verseëlde sement.

Die twee stortkoppe werk met aparte krane sodat elkeen afsonderlik gereguleer kan word.

Om kreatief te wees en iets self te doen, is goed vir die siel – ek kan dit aanbeveel – Chireze
KENNERSRAAD: Verf en vog

Nonkululeko Mcunu, handelsmerkbestuurder van Dulux, sê Dulux Pearlglo Waterbased-verf is ideaal om meubels wat in ’n vogtige ruimte gebruik gaan word, te verf – dis bestand teen stoom, vetterigheid en vlekke, en het ’n lieflike satynafwerking.

Wanneer jy ’n meubelstuk in jou badkamer verf (soos die geel kas oorkant), moet jy dit eers afskuur en voorberei met Dulux Supergrip All Surface Primer. Wend dan 2–3 lae Pearlglo aan; gebruik ’n sponsroller vir ’n eenvormige afwerking. As jy steeds bekommerd is oor waterskade, seël dit met Dulux Woodgard Interior/Exterior Timbavarnish met ’n glansafwerking.

Lang draaie

In dié gastetoilet kan gaste nogal lank besig bly terwyl hulle hulle verkyk aan al die mooi! Chireze se liefde vir geel word herhaal in die imbuia-buffet wat nou in ’n nuwe geel gedaante spog as wasbakkas. “Ek wou graag all out gaan en daarom het ek al my gunsteling-kleure en items hier gebruik,” vertel sy.

Die “teëls” teen die muur is vinielplakkers van Robin Sprong, met regte teëls tussenin wat Chireze op markte en by haar skoonma, Mila Venter, gekry het. Bo die wasbak het sy ’n geometriese patroon geverf in haar ander gunsteling-kleure: Cape Salmon, Morning Jewel 1 en Hawaiian Blue 6 uit Dulux se Rich Matt-reeks. Die hangligte en wasbak is spesiaal vir hulle gemaak deur Abraham Makwari, ’n uitstaller by die Sedgefield-mark.

Chireze se verfwenke

  • Skep genoeg helder hoekies en fokuspunte in jou huis – dis lekker om na mooigoed te kyk.
  • ’n Neutrale basis skep ’n gevoel van “nie te veel nie” en maak dit maklik om kleur by te voeg.
  • As jy iets kleurvols gekoop het en nie daarvan hou nie, kan jy dit altyd gaan omruil, maar probeer dit eers!
As jy hou van kleur, hoekom nie sommer ’n rooi springbokvel nie?
KONTAK EN VERSKAFFERS

Abraham Makwari 074 494 2983

Janine Borcher 083 602 6233

Robin Sprong robinsprong.com