1. Wit ’n muur af

Meng gelyke dele Tjhoko Paint en water; ons het die kleur Lorain’s Cream gekies. As jy ’n meer soliede effek wil hê, gebruik meer verf en minder water. Was enige vuiligheid af met ’n mengsel van suikerseep en water voor jy begin verf. Maak seker jou oppervlak is droog, doop dan ’n klam lap in die verfmengsel en smeer dit aan die muur.

WENKE

  • Die mengsel is geskik vir siersteenmure en rou hout. Toets dit op ’n onopsigtelike plekkie.
  • As jy ’n oppervlak wil afwit wat direkte sonlig kry, maak die mengsel soos volg aan: 250 ml Tjhoko Paint in die kleur vanjou keuse, 120ml Clear Glaze en 20ml water (dit sal sowat 8 m2 bedek). Die glasuur verseker ’n satynglans-afwerking wat UV- en waterbestand is. 

2. Met ’n bietjie blieng

Vee die oppervlak af met verdunner om seker te maak dis skoon. Verf dan die blou dele (kies enige kleur waarvan jy hou) met ’n 50mm-verfkwas van goeie gehalte; wag sowat 20 minute voor jy ’n tweede laag aanwend. Jy hoef nie was aan te wend nie; Tjhoko Paint is reeds verseël. Verf nou die Charm's Silver; skud die houer goed, want die swaar metaalpigmente sal na die bodem sak. ’n 38 mm-kwas van goeie gehalte sal in die 250ml-verfpot pas. 

3. ’n Stensil-effek

Jy kan enige oppervlak eksotiese sjarme gee met ’n stensil in die Marokkaanse styl; ons het dié tegniek op ’n gesonke paneel van die klavier (wat reeds met Charm’s Silver geverf is) toegepas. Meng Jane’s Jade, True Blue en Olivia’s Pale tot jy gelukkig is met die skakering; wend dit dan met ’n stensilkwas aan.

WENKE

  • Moenie te veel verf aan die kwas sit nie, anders loop dit onder die stensil in.
  • Beweeg die stensilkwas in sirkels; dit gaan vinniger en lewer ’n meer eweredige afwerking as om die verf aan te tik.