Fotos Francois Oberholster | Stilering Kim Bougaardt  

Wie woon hier? Lisa Spaarwater en Michael Muller
Waar Swellendam

Lisa Spaarwater, eienaar van die verfsaak Lemon & Lilac op Swellendam, wou die kombuis in die ou huis waar sy en haar gesin woon, ligter hê. Hoewel die houtkaste vir haar mooi was, was die vertrek net te donker.

Daarom het sy die verfkwaste nader getrek en met die regte kleurkombinasie ’n tydlose kombuis met ’n eg plattelandse geur geskep. Hier by Tuis weet ons al dié kunstenaar toor met ’n kwas! Toe sy en haar gesin in 2014 van die stad af Swellendam toe trek, was die kombuis beslis nie die rede waarom hulle die huis gekoop het nie, vertel Lisa en lag.

“Ek en my man, Michael, het van dag een af terugverlang na die kombuis in ons vorige huis, met die pragtige kombinasie van hout en geverfde kaste. Dis waarvan ons hou.” Dit was dus ’n uitgemaakte saak dat sy dié kombuis só sou inrig dat haar gesin gou kan tuis voel.

Hergebruik bly ’n gewilde manier om koste te besnoei. Dié ou rak is met ’n laag Dulux Gooseberry Fool 3 geverf. Dis nou die perfekte uitstalrak vir kosbaarhede soos ’n skildery deur Garda Everson en anker die ou borde teen die muur.

Die projek

Die knoetsdennehoutplafon was eerste aan die beurt. “Dit moes eenvoudig so gou moontlik ’n vars laag wit verf kry!” Die houtdeure na die kombuis, wat in ieder geval nooit gebruik is nie, is permanent verwyder en toe is die bo-kaste afgeskroef.

Uiteraard moes die muur daaragter geverf word, en Lisa het besluit op ’n verftegniek vir die hele kombuis se mure: Sy het Dulux Luxurious Silk gekies – ’n verf wat uiters bestand is teen vlekke.

Lisa het twee lae in die kleur Misty Morning geverf en dit goed laat droog word. Daarna het sy twee dele Dulux Dark Brown gemeng met een deel newelglasuur en dié kleurwasmengsel in groot sirkelbewegings met ’n lap aangewend.

Om die strepe se effek te versag, het sy vinnig daarna met ’n groot kwas oor die hele area gevee. Met die plafon en mure klaar, het die kombuiskaste aan die beurt gekom.

Struikelblokke is maar net uitdagings wat ’n bietjie meer geduld en kreatiwiteit verg om op te los. – Lisa

Omdat Lisa-hulle die projek op ’n klein begroting aangepak het, moes die ou Formica-werkblad op die onderste kaste bly; dit was daarom belangrik om ’n kleur te kies wat dié oppervlak komplementeer. Synde ’n ou hand, en met baie oorskietverf op die werf, het Lisa ’n nuwe kleur gemeng met die bietjies-bietjies verf wat sy reeds gehad het.

“Ek was lus vir iets opwindends, ’n donker kleur wat saam met die blad moet werk,” sê sy. ’n Ligte vuilblou gemeng met heelwat Dulux Heritage Green, het haar gebring by dié pragtige groen-blou baadjie waarin die kaste nou spog. As jy nie jou eie kleure wil meng nie, probeer een van die Dulux Blue Diamond-skakerings as jy van die blou hou wat Lisa gemeng het.

DIE VOORFOTO:

DIE PALET

Dulux Misty Morning

Dulux Dusted Moss 2

Dulux Gooseberry Fool 3

Dulux Dark Brown

KENNERSRAAD: Wonderlike glasuur

Newelglasuur (“scumble glaze”) is ’n deurskynende vloeistof wat by verf gevoeg word om die droogtyd te verleng sodat jy die verf kan rondbeweeg en verftegnieke uitvoer.

Tipiese tegnieke waar newelglasuur nuttig is, sluit kleurwas (“colour washing”), streepwerk (“dragging”) en veroudering in. In laasgenoemde geval meng jy dit byvoorbeeld met donkerbruin verf tot ’n glasuur waarmee jy kaste ’n antieke voorkoms kan gee. Newelglasuur kan op enige oppervlak saam met verf gebruik word, selfs tafelblaaie.

Die produk is in die verf-afdelings van die meeste ysterwarewinkels of by spesialisverfwinkels te kry. Dit kom met ’n oliebasis of waterbasis om onderskeidelik saam met oliebasis- of waterbasisverf gebruik te word.

Die kombuiskas se goudkleurige knoppe, waarvan Lisa aanvanklik ontslae wou raak, pas perfek by die nuwe kleur. “Ek kon self nie glo hoe mooi dit toe skielik lyk nie, en toe spaar dit ons boonop ’n paar rand!”

Michael het die rakke gemaak met afvalhouten stutte van ’n plaaslike skrynwerker. Die kas se houtblad is skoongeskuur en gesee¨l met Dulux Woodgard Interior Satin; dis waterwerend en bestand teen vlekke en skrape. 

KENNERSRAAD: Die beste verf vir hout

Nonkululeko Mcunu, handelsmerkbestuurder van Dulux, sê Dulux Pearlglo Waterbased Enamel is die beste opsie vir houtpanele en -rame. Dit het ’n satynafwerking wat nie sal vergeel nie, en dit kan binne en buite gebruik word.

Gloss Enamel het ’n duursame glansafwerking wat nie sal verdof nie en kan ook binne en buite gebruik word. Gebruik Dulux Wood Primer of Dulux Supergrip All Surface Primer sodat jou gunstelingverf egalig aanwend – laasgenoemde het ’n waterbasis en word vinniger droog.