Fotos: Francois Oberholster | Stilering: Marian van Wyk

Wie woon hier? Carina en Jurie Prins
Waar? Paarl

Carina en Jurie Prins woon reeds die afgelope tien jaar op die Val de Vie-landgoed buite die Paarl. Dis hul tweede huis op die landgoed, en dié keer het hulle laat bou.

Carina is mal oor nuut begin en sê bou is vir haar soos ’n stokperdjie. “Ek en Jurie is albei skeppende mense,” vertel sy. “Dit was ons tiende projek saam. Ons vriende se kinders spot altyd en sê ek het al vyf kombuise in dieselfde huis gehad. Of: ‘Tannie Carina verkoop haar huis as sy ’n nuwe kombuis wil hê.’

Mooi dekor is maar my passie en dit is vir my maklik om alles bymekaar te bring.” Carina wou ’n baie spesifieke voorkoms in haar nuwe kombuis hê. Toe kies sy swart. “Dit verleen drama aan die vertrek. En dis ons gesin se lekkerste kuierplek.”

DIE PALET

Projek #1 Die kombuis

Die firma Malco het die kombuiskaste uit Supawood gebou, en die verfwerk is deur Lisa Spaarwater van Lemon & Lilac Paint Techniques onderneem. Dié twee kontrakteurs was ook by die Prinse se vorige huis betrokke.

Die verfwerk is juis so gedoen dat die kaste ’n ingeleefde voorkoms kan hê, want Carina wou nie hê alles moes doodgewoon en nuut lyk nie. “Ek wou boonop nie hê dit moet soos ’n tradisionele kombuis lyk nie; daarom is die mikrogolf, onooglike en los goed versteek in die losstaande kas wat ons nie laat verf het nie.”

Twee lang kaste dien ook as spenskaste. “Losstaande kaste gee ’n ingeleefde gevoel, maar ek wou skok – vandaar die keuse van ’n swart Falcon-stoof en swart verf vir die kaste.” Die eindresultaat was die kuierkombuis wat Carina nog altyd wou hê. “Dis vir my heerlik as iemand by my kom sit terwyl ek kos maak.

Die sementvloer is deur Stucco Italiano in die natuurlike sementkleur.

HOU DIÉ WENKE IN GEDAGTE

• “Kies ’n kleur wat jou geval en die verlangde eindresultaat ten beste na vore gaan bring. Moenie bang wees om jou individualiteit totuiting te bring nie,” is Carina se raad. Lisa beaam dat jy jou nie vreeslik moet steur aan trends nie. “Gebruik eerder kleure/kombinasies wat jou opgewonde maak. So skep jy iets unieks en kan jy jou persoonlike stempel daarop sit.”

• Dis wys om iemand te kry wat professioneel verf, veral as dit ’n groot area soos kombuiskaste is, beveel Lisa aan. “Indien jy die projek self wil aanpak, begin eers met ’n kleiner paneel. Jy sal wel gou agterkom of jy kans sien vir die hele projek.”

• Lisa sê ook hoewel bykans enige oppervlak suksesvol geverf kan word, sal sy nie sommer ’n kombuis se werkblaaie verf nie – tensy dit ’n oppervlak is waarop daar nie veel voorbereidingswerk (soos kap en sny) gedoen gaan word nie.

• “Feitlik enige oppervlak kan suksesvol geverf word as dit reg voorberei word. Maar hoe gladder die oppervlak, hoe belangriker is die voorbereidingswerk.” ’n Goeie skuur, die gepaste onderlaag, hoëgehalte-verf en vernis of was dra alles by tot ’n netjiese eindproduk wat sal hou, is haar raad. Sy gebruik graag Dulux PVA-verwe omdat dit dun genoeg is om kaste mee te verf en lekker te verweer.

• Oor verftegnieke sê Lisa: “Nie almal hou daarvan op ’n kombuiskas nie, want nie alles gaan presies dieselfde lyk nie. As jy ’n eenvormige effek verkies, is dit beter om kaste te laat spuitverf.”

Projek #2 Die badkamer

Die kas is met Annie Sloan in die kleur Olive geverf en om die verweerde voorkoms te kry, met Dala se metaalverf in goud afgewerk. Die marmerblad is in die kleur Arctic White. 

As jy wil meng en pas, steel met jou oë. Ons reis redelik gereeld en ek is gaande oor die Franse en Italiaanse leefstyl – die ou afgewitte huise is vir my bekoorlik en in die ou dae het mense net losstaande kaste gehad. Ek is mal oor dié ingeleefde voorkoms. – Carina

Die Prinse se badkamer is voorwaar geskik vir ’n koningin – ’n weelderige wegkruipplek waar jy jou gedagtes ná ’n lang dag in ’n borrelbad kan orden. Toe hulle die huis drie jaar gelede laat bou het, wou Carina graag die pragtige kas van Interior Concepts, met sy marmerblad en dubbelwasbak, in hul en suite gebruik. “Ons is albei lief vir die drama en oordadige krulle van die Franse styl en het dit al voorheen ingespan,” vertel Carina.

Die kas kom met ’n baie ruwe grys of wit onderlaag van die verskaffer af en is dus ideaal om te verf. Lisa het ook hier hand bygesit. “Sy het al verskeie verfprojekte vir ons onderneem en ken my smaak goed,” vertel Carina. Haar opdrag aan Lisa was om ’n gevoel van drama te skep. Gewone grys of wit is nie haar styl nie; sy hou van kleur en die kas moes ’n indruk maak. Dit was so reg in Lisa se kraal, want sy glo hoe meer detail op die stuk is, hoe beter pas ’n ingeleefde voorkoms daarby.

“Die kurwes en reliëfwerk het my toegelaat om heerlik te speel met die ryk kleur en titsels goud.” Vandag is Carina en Jurie mal oor hul imposante wasbakkas. “Dis regtig ’n fees vir die oog wanneer ’n mens in die bad ontspan,” vertel Carina.

DIE PALET

By ’n hipermoderne tema sal ek eerder wegbly van ’n verweerde voorkoms. – Lisa

KENNERSRAAD

Nuut word oud

Hou dié faktore in gedagte oor die verweerde voorkoms, sê Lisa:

• Die oppervlak wat geverf moet word, bepaal die tipe voorbereiding wat nodig is. Met Annie Sloan-verf is meestal min of geen voorbereiding nodig nie.

• Ek kom graag geverfde oppervlakke met ’n stuk skuurpapier by en gebruik dan metaalverwe (goud, silwer, brons) om sekere dele uit te lig of te beklemtoon. Ek hou ook baie daarvan om verskillende produkte saam te gebruik. Onverwagse dinge gebeur en ’n mens kan lekker kreatief raak so.

• Daar is verskillende maniere om ’n verweerde voorkoms te verkry. Carina se badkamerkas het ek doelbewus ruwer en minder solied geverf en op sekere plekke waar ek klem wou plaas, die verf met ’n lap afgevee voor dit heeltemal droog was.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS