Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk 

Wie woon hier? John-Smit en Marelie Naudé, hul kinders, Jano (7) en Liné (5), en die katte Pikkie, Sakkie, Romy en Bella
WAAR Port Elizabeth

Soms het ’n vervelige ruimte net ’n spatsel verf nodig. En nadat sy die artikel “A is vir appelgroen” in ons September 2014-uitgawe gesien het, het Marelie Naudé besluit om haar kinders se speelplek met ’n kleurinspuiting te verfris.

Daar was net een probleem: Hulle het nie regtig ’n speelplek gehad nie! Die Naudés se huis, wat hulle drie jaar gelede gekoop het, was nommerpas vir die meeste van hul behoeftes – naby skole en met genoeg ruimte buite – maar dit was maar aan die klein kant. Daar was nie genoeg plek vir ’n toegewyde speelkamer nie, daarom het daar baiekeer speelgoed in die huis rondgelê.

“Ek en die kinders het gereeld saans gestry oor speelgoed wat opgetel moet word,” sê Marelie. Sy en John- Smit onthaal graag, maar wanneer die maatjies oorgeslaap het, was die kinders se slaapkamer onbegaanbaar soos die speelgoed die slaapkamervloer vol gelê het! Met ruimte as motivering het dié kreatiewe ma en pa uiteindelik ’n enkelgarage wat eers as bêreplek gebruik is, omskep in ’n gerieflike speelkamer.

Die ongewone uitstalrak was ’n Gumtreekopie. Die vloere is geteël sodat dit maklik is om skoon te maak.

Die opknap

Die projek het in September 2016 begin en was teen November voltooi – net betyds vir die skoolvakansie. Hulle het heel eerste die roldeur vervang met ’n venster en die muur tussen die garage en die res van die huis deurgebreek en ’n deur ingebou.

Die mure is gepleister en geverf, die vloere geteël en gesonke ligte en ekstra kragpunte geïnstalleer. Speelgoed word in plastiekbokse op die rakke gebêre en die Naudés het bankies teen die muur ingebou met bêreplek onderin. Dié bankies is kindervriendelik; die deksels het gasstutte (soos ’n luikrugmotor s’n) sodat dit nie toeklap en hul hande seermaak nie.

Marelie se pa, Pieter Wessels, het die pophuis gemaak; die meubels en bykomstighede, wat met noukeurige detail afgerond is, was ouma Tilla se handewerk. 

DIÉ SPEELKAMER KRY DIE GROEN LIG

Marelie wou ’n vertrek skep waar die kinders hul kreatiwiteit na hartelus kan verken en hul verbeelding vrye teuels gee – en dit kon sy regkry met net verf en slim bykomstighede. Sy het twee mure wit gehou en Dulux Acrylic PVA in die kleur Grecian Garland 1 onder die rakke gebruik.

“Ek hou van die idee van ’n groen speelkamer omdat dit ewe goed werk vir ’n meisie en ’n seun,” verduidelik sy. Marelie glo vas in die invloed wat kleur op die atmosfeer van ’n vertrek het. “Ek dink groen is ’n lewendige, gelukkige, vars kleur,” sê sy. “Ek het ook ’n rooi vertrek, ’n turkoois vertrek en ’n grys vertrek in my huis, en elkeen het ’n ander uitwerking op my gemoed. As ek koud en eensaam voel, gaan sit ek in die rooi vertrek. As ek warm en oorweldig voel, helder die turkoois vertrek my bui op.”

In die speelkamer is een muur met swartbordverf bedek – perfek vir ’n speelkamer waar die kleinspan gereeld skooltjieskooltjie speel. In dié nuwe ruimte is dit nou heeltyd speeltyd: Jano en Liné kan alles saans net so los en die volgende dag hul avonture voortsit. Namate die kinders ouer word, sal die vertrek mettertyd omskep word in ’n tiener se droom met “ ’n PlayStation, ’n TV en ’n paar rusbanke”, sê Marelie. “Daarna kan ons dit verander in ’n oumawoonstel."