Die selfdoener Meggan Lapham wou nuwe lewe in die gesin se ou stoepstel blaas, want die kussings het deur die jare verbleik en hul fleur verloor. Aanvanklik het haar man, Ernest, probeer om die oortreksels te kleur, maar dit het op ’n algehele ramp uitgeloop!

Meggan het toe al heelparty ander projekte met Annie Sloan-verf voltooi, en toe sy verneem dat jy dit selfs op lap kan gebruik, wou sy dadelik kyk of dit werk. En was sy nie beïndruk nie! “Dis soveel pret, en so maklik – enigiemand kan dit doen! Ek sal dié projek aanbeveel by almal wat graag self dinge in en om die huis opknap,” sê Meggan nou.

So het sy gemaak: 

Meggan het vier blikke Annie Sloan-verf in die kleur Napoleonic Blue gekoop, dit met ’n bietjie water gemeng (500 ml water op1 liter verf) en met haar Annie Sloan-kwas op die lap geverf. Sy het eers net een laag aangewend, dit laat droog word en toe hier en daar nog ’n bietjie aangetik vir die perfekte afronding.

Toe die verf droog was, het sy ’n laag Annie Sloan Clear Wax met ’n lappie aangewend. Die was bring nie net die kleur lieflik uit nie, maar gee die kussings ook ’n leeragtige glans en verseker dat die materiaal waterdig is.

Dié projek sal jou so drie tot vier uur neem – Meggan het die oggend begin en kon haar handewerk teen teetyd daardie middag bewonder.

Die hele projek het omtrent vier uur geneem. En toe kon Meggan haar “nuwe” stoepmeubels na hartelus inklee!

V&A MET ANNIE SLOAN

Ons het die krytverf- ghoeroe gevra watter soorte lap die geskikste is vir haar produk.

V: Kan ’n mens Annie Sloan-verf op enige tekstiel gebruik?

A: Ons het ons verf al op verskeie soorte lap getoets – ook fluweel – en het nog geen probleme ondervind nie.

V: Sou jy mense aanraai om Annie Sloan-verf vir selfdoenprojekte met lap te gebruik?

A: Ons kan dit beslis aanbeveel. Jy kan Annie Sloan direk op die lap verf, of die lap in verdunde verf doop vir ’n subtieler kleur.

V: Moet jy water by die verf voeg as jy lap daarmee wil verf?

A: Ja, dis belangrik om die verf te verdun sodat dit makliker aanwend; dit keer ook dat klonte in die verf vorm.

V: Moet jy die projek met was afrond?

A: Nee, dis nie nodig nie; as die verf eers droog is, sal dit nie op jou klere afgee nie. Maar gebruik gerus was vir ’n sagte, leeragtige voor- koms. Moet net nie fluweel met was seël nie.